Aansoek vir advertensie spasie
Taalbeleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: TAALBELEID

AANGESIEN die Primêre Skool Laerskool Proteapark (“die Skool”) ’n openbare skool is kragtens die bepalings van artikel 52 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996), soos gewysig (“die SASW”), en artikel 64 van die Vrystaat Skoolonderwyswet, 2000 (Wet 2 van 2000) (“die VSOW”);
EN AANGESIEN die Beheerliggaam van die Skool geregtig is, kragtens die bepalings van artikel 6(2) van die SASW en artikel 17(1) van die VSOW, om die taalbeleid van die Skool te bepaal behoudens die Grondwet van die RSA, die SASW en die VSOW;
EN AANGESIEN die Minister van Onderwys in terme van artikel 6(1) van die SASW norme en standaarde vir taalbeleid in openbare skole vasgestel het by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant (Kennisgewing nr. 1701 van 19 Desember 1997 gepubliseer in Staatskoerant nr. 18546 van 19 Desember 1997);
NOU DERHALWE bepaal die Beheerliggaam van die Skool hiermee dat die taalbeleid van die Skool sal wees soos hierna uiteengesit:

1. DIE SKOOL EN BEHEERLIGGAAM SE BEGINSELS EN OORTUIGINGS RAKENDE TAAL IN ONDERWYS:
1.1 Behoorlike kommunikasie is onontbeerlik vir suksesvolle en sinvolle onderwys. Op sy beurt kan daar geen behoorlike kommunikasie wees nie tensy die opvoeder bedrewe en die leerder ten minste redelik bedrewe is in die taal van onderrig van die Skool.
1.2 Dit is nie in die beste belang van die leerder dat sy keuse van onderrigtaal aanvaar word terwyl sy bedrewenheid in die betrokke taal sodanig te kort skiet dat hy nie in staat is om volgens sy vermoë te presteer nie.
1.3 Die vordering van leerders wat genoegsaam bedrewe is in die taal van onderrig van die skool, behoort nie vertraag te word weens die toepassing van spesiale taalvaardigheidsprogramme of die toedeling van bykomende tyd aan leerders met onvoldoende bedrewenheid in die betrokke taal van onderrig nie. Leerders mag nie benadeel word deur ’n ander leerder of groep leerders se keuse van ’n ongewone of vreemde taal van onderrig nie.
1.4 Die voorvereiste van redelike praktiese uitvoerbaarheid wat gekoppel is aan die reg van ’n leerder om sy taal van onderrig te kies (soos vervat in die voormelde norme en standaarde), hou nie slegs verband met die hulpbronne van die Skool nie, maar ook met die mate waartoe dié leerder waarskynlik bevoordeel en die ander leerders waarskynlik benadeel sal word indien onderrig in die betrokke taal aan die betrokke leerder verskaf sou word.
1.5 Gebaseer op die huidige menslike- en materiële hulpbronne van die Skool, is die Skool ten beste toegerus om die opvoedkundige behoeftes van leerders met Afrikaans as moedertaal te bevredig. Derhalwe sal die behoeftes van sodanige leerders voorkeur geniet wanneer dit ookal nodig mag wees om die voorkeurorde van leerders se behoeftes te bepaal.
2. VERBODSBEPALINGS:
2.1 Daar mag nie onregverdiglik teen enige leerder gediskrimineer word, direk of indirek, op grond van sy taal nie.
2.2 Geen taaltoetse mag afgeneem word as voorvereiste vir toelating tot die Skool nie: Met dien verstande dat die prinsipaal geregtig is om ’n leerder toelating tot die skool te weier indien die prinsipaal in goeie trou en op redelike gronde glo dat sodanige weiering in die beste belange van sowel die applikant leerder as die ander leerders sal wees, weens die gebrek aan bedrewenheid van die applikant leerder in die taal van onderrig van die Skool.

3. TAAL VAN ONDERRIG:
3.1 Die taal van onderrig van die Skool is Afrikaans.
3.2 Elke leerder of voornemende leerder het die grondwetlike reg om onderrig te ontvang in die amptelike taal van sy keuse by ’n openbare skool, met dien verstande dat onderrig in sodanige taal redelikerwys prakties uitvoerbaar is.
3.3 Die ouer van die leerder oefen namens die leerder die gemelde reg om die taal van onderrig te kies uit. Hierdie keuse moet gemaak word by aansoek vir toelating van die leerder tot die Skool.
3.4 Waar die taal van onderrig deur die applikant leerder gekies dieselfde is as die taal van onderrig van die skool en met dien verstande dat daar plek vir daardie leerder in die betrokke graad is, moet daardie leerder tot die skool toegelaat word, onderworpe aan enige moontlike wetlike rede waarom sodanige toelating geweier kan word.
3.5 Die prinsipaal moet ’n rekord hou van alle versoeke vir onderrig in ’n ander taal as Afrikaans.

4. BEVORDERING VAN VEELTALIGHEID:
4.1 Die Beheerliggaam verbind homself en die Skool tot die aanbied van Engels as volwaardige taalvak by die Skool.
4.2 Die Beheerliggaam namens die skool onderneem ook om alles prakties moontlik te doen om ten minste een ander amptelike taal, soos Suid-Sotho, as volvaardige vak aan te bied of as onderafdeling van die toepaslike leerarea met die oog daarop om leerders ’n basiese gebruik van die betrokke taal aan te leer.
4.3 Onderworpe aan beskikbare fondse sal die skool toepaslike Engelse en Setswana boeke en leermateriaal aankoop vir gebruik deur leerders en opvoeders van die skool, met die oog daarop om hulle bedrewenheid in Engels en Setswana te verbeter.

5. KOMMUNIKASIE MET OUERS:
Ten spyte daarvan dat die oorgrote meerderheid van ouers van die skool Afrikaanssprekend is, onderneem die Beheerliggaam om, waar prakties moontlik, met ouers wat nie Afrikaanssprekend is nie in hulle eerste taal te kommunikeer met verwysing na die omsendbriewe wat van tyd tot tyd aan ouers gestuur word en ook die akademiese rapporte van die leerders.

6. TALE AS VAKKE:
6.1 Die toedeling van tyd en hulpmiddele moet eweredig wees met betrekking tot alle taalvakke by die skool aangebied.
6.2 Die volgende promosievereistes sal van toepassing wees op taalvakke:
6.2.1 In grade 1 tot 3 moet Taal van onderrig en leer geslaag word; Dit impliseer 3 op ©° vierpuntskaal
6.2.2 In grade 4 tot 7 moet taal van onderrig en leer geslaag word, met dien verstande dat gemelde tale amptelike tale moet wees. Dit impliseer 3 op ©° vierpuntskaal en (gr. 4-6) en 4 op ©° sewe punt skaal (Gr. 7)
6.3 By voltooiing van graad 7 moet elke leerder beskik oor bevredigende standaarde van bedrewenheid in ten minste twee van die amptelike tale.

7. ALGEMEEN:
Die opvoedingsproses by die Skool moet daarop gemik wees om 'n kultuur van respek vir die land se diverse taalgemeenskappe te kweek.
8. HERSIENING:
Hierdie beleid moet van tyd tot tyd op deurlopende basis hersien en verder ontwikkel word.

Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za