Aansoek vir advertensie spasie
Rugbybeleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: RUGBYBELEID

Hierdie beleid moet gelees word saam met die “Framework for Collaboration” : Coordination and Management of School Sport in Public Ordinary Schools : 15 March 2005

Hierdie beleid moet gelees word saam met die Noordwes Luiperds beleid asook die beleid van die Rustenburg laerskole Rugbyvereniging.

Dit onderskryf ook ons skool se visie en missie in die algemeen en deral ten opsigte van sport.

1. DOELSTELLINGS
1.1 Om die leerders se vaardighede en potensiaal t.o.v. rugby te ontwikkel.
1.2 Om liefde vir die spel aan te moedig
1.3 Om goeie sportmangees te ontwikkel by die spelers.

2. Ligas
2.1 Die skool skakel in by die Luiperds Rugbyunie se grootskole liga. Die skool behou die reg voor om te besluit teen watter skole ons wil speel en of ons teen hulle onderskeie a,b of c -spanne gaan speel ten einde opvoedkundig verantwoorbaar te wees.
2.2 Die getalle van beskikbare spelers asook beskikbare afrigters sal bepaal hoeveel spanne ingeskryf word.
2.3 Die spanne wat ingeskryf kan word sal soos volg wees :
∙ 0/9 A en B
∙ 0/10 A
∙ 0/11 A
∙ 0/13 A
∙ 0/13 B
∙ 0/13 C

‒ Enige 0/13-seun en 0/12-seun is geregtig om in die 0/13 A en 0/13 B-span te speel indien hy hy volgens meriete deur die afrigter(s) verkies is.
‒ 0/9, 0/10 en 0/11-spanne mag geen ander ouderdomme in hulle spanne opneem nie.

3. VRIENDSKAPLIKE WEDSTRYDE
Vriendskaplike wedstryde word deur die sportbestuurder met toestemming van die hoof gereël. Dit sal waar moontlik op die kwartaalprogram aangedui word.
Indien dit nie op die kwartaalprogram aangedui is nie, moet die spelers vroegtydig kennis kry d.m.v. ‘n skrywe ingelig word.

4. PLIGTE VAN DIE SPORTBESTUURDER, DIE ORGANISEERDER EN AFRIGTERS
4.1 SPORTBESTUURDER
4.1.1 Die sportbestuurder word deur die Beheerliggaam aangestel.
4.1.2 Die sportbestuurder moet toesien dat die beleid geïmplementeer en toegepas word.
4.1.3 Die sportbestuurder moet ‘n lêer vir elke sportsoort in sy kantoor hê.
4.1.4 Die sportbestuurder stel die organiseerders in samewerking met die skoolbestuur aan.
4.1.5 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die maandelikse verslag aan die Beheerliggaam asook die weeklikse verslae aan die hoof. Hy/ sy moet ook toesien dat die sportsoorte die nodige dekking in die koerante en op die webblad geniet.
4.1.6 Die sportbestuurder dien op die sportkomitee van die Beheerliggaam.
4.1.7 Die sportbestuurder reël vergaderings van die sportkomitee in samewerking met die betrokke Beheerliggaamlid en skoolbestuur.
4.1.8 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die voorbereiding van bane/ velde voor wedstryde.
4.1.9 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die kontrole en beheer van sportvoorraad en voorraadopnames.
4.1.10 Die sportbestuurder reël afrigtingsklinieke, reëlbesprekings en eksamens in samewerking met die organiseerder.
4.1.11 Die sportbestuurder kontroleer die betalings van buite-afrigters voordat dit ingestuur word vir betaling.
4.1.12 Die sportbestuurder hanteer griewe en dispute wat na hom/ haar verwys is.
4.1.13 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die opstel en bestuur van die begroting in samewerking met die organiseerders.
4.1.14 Die sportbestuurder reël busvervoer indien nodig en stel die bedrag vas wat elke speler/ deelnemer moet betaal.
4.1.15 Die sportbestuurder doen die toekennings vir trofeë vir die prysuitdeling in samewerking met die organiseerders.

4.2 ORGANISEERDER
4.2.1 Die organiseerder is verantwoordelik vir die organisatoriese aspekte van ligas/ wedstryde/ byeenkomste in samewerking met die afrigters.
4.2.2 Die organiseerder wys die afrigters/ skeidsregters/ beamptes aan in samewerking met die sportbestuurder.
4.2.3 Die organiseerder stel die begroting op in samewerking met die afrigters en bespreek dit met die sportbestuurder.
4.2.4 Die organiseerder moet reël dat die bane/ velde voorberei word vir wedstryde/ byeenkomste. Die voorbereiding van die veld/ bane is die verantwoordelikheid van die sportbestuurder.
4.2.5 Die organiseerder stel die oefentye vas in samewerking met die skoolbestuur en organiseerder.
4.2.6 Die organiseerder kontroleer die afrigters ten opsigte van oefentye, bywoningsregisters ens.
4.2.7 Indien daar van buite-afrigters gebruik gemaak word, moet die organiseerder ‘n tydkaart byhou en aan die einde van elke maand instuur aan die sportbestuurder, sodat die betaling aan die afrigter gemaak kan word.
4.2.8 Die organiseerder is verantwoordelik vir die uitslae/ verslag aan die sportbestuurder op ‘n Maandag en ook vir die terugrapportering in die saal.
4.2.9 Die organiseerder woon ook die jaarvergadering en ander vergaderings soos nodig, vir die betrokke sportsoort by.
4.2.10 ‘n Volledige, gedetailleerde pligstaat is beskikbaar by die sportbestuurder.

4.3 AFRIGTERS
4.3.1 Afrigters word deur die organiseerder in samewerking met die sportbestuurder aangewys.
4.3.2 ‘n Afrigter neem volle verantwoordelikheid vir sy/ haar span. Elke afrigter moet ‘n lys hê van die leerders wat by die betrokke item/ span oefen.
4.3.3 Die afrigter moet sorg dra dat hy/ sy op hoogte is van die nuutste reëls en afrigtingstegnieke.
4.3.4 Die afrigter is verantwoordelik vir die opwarming, fiksheid en afrigting van die span aan hom/ haar toegewys.
4.3.5 Die afrigter moet toesien dat die spelers/ deelnemers korrek volgens voorskrifte geklee is.
4.3.6 Die afrigter is verantwoordelik vir die evaluering van spelers met die oog op die maak van spankeuses. Die evaluering sal van tyd tot deur die sportbestuurder gekontroleer word.
4.3.7 Die afrigter reël die vervoer van spelers/ deelnemers en voltooi ook die dokumentasie vir toestemming van die Onderwysdepartement.
4.3.8 Afrigters moet te alle tye voorbereid en met geskikte kleredrag by die oefeninge/ wedstryde/ byeenkomste opdaag.
4.3.9 Afrigters moet twee keer per week afrig. Die afrigtingssessies moet ten minste een uur per keer duur.
4.3.10 Daar sal ook van die afrigters verwag word om alle wedstryde van sy span by te woon.
4.3.11 Afwesighede by oefeninge en wedstryde moet met die organiseerder gereël word.
4.3.12 Alle onderwysers wat as afrigters optree moet die reëlbespreking bywoon aan die begin van die seisoen en moet hulleself as skeidsregters beskikbaar stel.
4.3.13 Die afrigter besluit oor die plasing van leerders in ‘n span en in watter posisie hy ‘n speler wil laat speel. Die afrigter moet egter ‘n stelsel in plek hê waarvolgens leerders geëvalueer word sodat dit as motivering gebruik kan word wanneer daar navrae sou wees. Alle navrae oor die plasing van leerders in ‘n span sal deur die organiseerder en sportbestuurder opgevolg word met die betrokke afrigter.
4.3.14 Die sportbestuurder sal die afrigters tydens wedstryde evalueer en dan op ‘n gereelde basis terugvoering gee aan die afrigters.
4.3.15 Indien daar nie genoeg onderwysers is om al die spanne af te rig nie, mag daar van afrigters van buite of ouers gebruik gemaak word.
4.3.15.1 Die buite-afrigters se aanstellings word deur die sportbestuurder in samewerking met die Beheerliggaam bekragtig.
4.3.15.2 Die sportbestuurder sal ook die buite-afrigter gradeer en dié afrigters sal dan volgens die skaal vergoed word. Die onderwyser by die betrokke ouderdom waar die buite-afrigter diens doen moet sorg dra dat die ure op die staat aangeteken word.
4.3.15.3 Die gradering van buite-afrigters is soos volg :
4.3.15.4 Vergoeding per uur sal bepaal word volgens die bedrag wat in die begroting toegestaan is.

5. ORGANISASIE EN PROSEDURESTAAT VAN SPORTBESTUURDER EN ORGANISEERDER
5.1 Uitnodigings: Sportbestuurder
5.1.1 Beplan vroegtydig
5.1.2 Skakel/ faks die skole
5.1.3 Bedank per brief indien uitnodiging aanvaar is.
5.1.4 Reëlingsbrief volg twee weke voor wedstryde

5.2 Bestuursvergadering: Organiseerder
5.2.1 Ligabepalings vir die seisoen
5.2.2 Vastelling van affiliasie
5.2.3 Uitspeelwedstryde/ finale wedstryde

5.3 Voorbereiding van velde: Sportbestuurder
5.3.1 Dit is die plig van die sportbestuurder. Die organiseerder moet egter net kontroleer dat alles in plek is.
5.3.2 Pale: Herstel en verf
5.3.3 Vlaggies
5.3.4 Merk van die veld aan die begin van die oefenseisoen en voor elke wedstryd.

5.4 Interne vergadering:Organiseerder
5.4.1 Bespreek korrespondensie
5.4.2 Toekenning van spanne aan verskillende afrigters
5.4.3 Bepaling van oefentye
5.4.4 Skakeling met ander afrigters indien nodig.
5.4.5 Uitdeel van toerusting en truie. Elke afrigter teken daarvoor.
5.4.6 Begroting

5.5 Bywoning van afrigtingsklinieke
5.5.1 Afrigtingsklinieke word deur die sportbestuurder in samewerking met die organiseerder gereël.
5.5.2 Alle afrigters sal verplig wees om die afrigtingsklinieke by te woon.

5.6 Toere
5.6.1 Dit is nie verpligtend nie.
5.6.2 Reël ‘n ouervergadering voordat finale reëlings getref word. Tydens dié vergadering word die ouers breedvoerig ingelig oor die toer. Die uiteensetting van die koste moet tot in die fynste besonderhede aan die ouers voorgelê word.
5.6.3 Spelers word voorsien van briewe waarin alle reëlings asook die koste verduidelik word.
5.6.4 Die koste vir die toer kan nie deur die skool gedra word nie. ‘n Leerder wat dus nie die volle geld betaal het voordat die toer begin nie, sal nie die toer kan meemaak nie. Daar kan van borge gebruik gemaak word.
5.6.5 Borgbriewe kan deur die skool aan die spelers/ ouers voorsien word. Elke brief moet genommer word en aangeteken word teenoor die speler/ ouer se naam. Die toerorganiseerder moet kontrole uitoefen dat elke borgbrief terugbesorg word en die geld wat verkry is, inbetaal is.
5.6.6 Aan die einde van die toer moet die al die nodige dokumentasie saam met ‘n LP 45 ingehandig word.

5.7 Gradering van skeidsregters
5.7.1 Eksamen.
5.7.2 Opleiding van voornemende skeidsregters deur bekwame persone.
5.7.3 Praktiese gradering.

5.8 Liga/ Vriendskaplike wedstryde
5.8.1 Skakel met besoekers: aantal spanne/ skeidsregters/ tyd
5.8.2 Stel speelrooster op en stuur aan besoekers.
5.8.3 Reël verversings
5.8.4 Noodhulp
5.8.5 Klankstelsel
5.8.6 Water/ koeldrank vir halftyd
5.8.7 Vlaggies
5.8.8 Ontvangs van eregaste
5.8.9 Parkering vir motors en busse
5.8.10 Kleedkamers: naamborde rigtingwysers

5.9 Besoek aan ander skole
5.9.1 Vervoer (soort en koste)
5.9.2 Aantal spanne
5.9.3 Afrigters en skeidsregters wat van busvervoer gebruik wil maak.

5.10 Proewe
5.10.1 Proewe sal aan die begin van die seisoen gehou word om spanne te kies.

5.11 Jaarprogram aan ouers en afrigters. Briewe moet met die aanvang van die seisoen aan die ouers gestuur word waarin alle reëlings deurgegee word. Die volgende inligting moet in skrywe wees:
- Voor seisoen oefentye en vriendskaplike wedstryde
- Seisoen oefentye
- Liga bepalings
- Enige ander belangrike datums en reëlings
Enige reëlings wat verander moet skriftelik en vroegtydig deurgegee moet word.

5.12 Aan die einde van die seisoen moet daar ‘n volledige voorraadopname gedoen word. Alle tekorte moet aan die voorraad beampte voorgelê word vir goedkeuring.

5.13 Begroting vir die volgende seisoen.

5.14 Uitslae: Die organiseerder moet elke week die uitslae na die sportbestuurder stuur sodat die uitslae aan die hoof gestuur kan word. Een van die spelers moet ook terugvoering doen tydens saalopening. Die spelers moet om die beurt geleentheid kry om terugvoering te doen.

5.15 Korrespondensie:
- Alle fakse wat ontvang word moet aangeteken word.
- Alle korrespondensie moet deur die hoof mede-onderteken word.
- Die skool se briefhoof moet vir amptelike korrespondensie gebruik word.

6. BEFONDSING
6.1 Die organiseerder in samewerking met die afrigters stal jaarliks voor die einde van September, ‘n begroting op vir die volgende jaar.
6.2 Slegs dit waarvoor begroot is, mag aangekoop word. Wanneer aankope gedoen word, moet ‘n LP22 voltooi word. Indien die LP 22 goedgekeur is, moet ‘n bestelvorm voltooi word voordat die goedere aangekoop word.
6.3 Geen skoolgeld sal aangewend word vir toere nie. Geld vir toere moet deur die leerders self betaal word, of daar moet borge gewerf word.
6.4 Vir elke toer moet daar ‘n behoorlike uitgewerk word, moet genommer word en op ‘n klaslys aangeteken word sodat behoorlike kontrole uitgeoefen kan word. Alle borgbriewe en borgvorms moet ingehandig word voordat die toer begin. Elke speler/ ouer wat geld inbetaal moet ‘n kwitansie ontvang. Die volledige prosedure is in die skool se finansiële beleid.

7. KLEREDRAG
7.1 Rugbytruie: Dit word deur die skool aan die spelers voorsien. Alle spanne se truie lyk dieselfde, behalwe die eerste span se truie. Die amptelike kleure van die skool moet in die truie voorkom. Elke afrigter is verantwoordelik vir die beheer en kontrole van sy span se truie. Borge se name mag op die truie vertoon word.
7.2 Alle spanne speel met ‘n blou broekie, behalwe die eerste span wat met wit broekies speel.
7.3 Spelers moet te alle tye baie netjies wees. Alle skoolreëls ten opsigte van hare en voorkoms moet deur die speler eerbiedig word.
7.4 T-hemde, pette, ens . Mag ook deur borge geskenk word. Ook hier geld die reëling van die skoolkleure.

8. VERVOER
8.1 Daar moet toestemming van die Onderwysdepartement verkry word as leerders vervoer moet word. Die nodige dokumentasie moet ten minste twee weke voor die aanvang van die wedstryd ingestuur word vir goedkeuring.
8.2 Die skool subsidieër alle vervoer binne ‘n radius van 70 km van die skool. Alle kilometers buite die radius moet deur die betrokke spelers betaal word. Die vervoerrëelings moet met die sportbestuurder gekoördineer word en die koste per speler bereken word na aanleiding van die kwotasie wat deur die vervoerkontrakteur aan die skool voorsien is.

9. GRIEWEPROSEDURE
9.1 Alle griewe moet skriftelik by die organiseerder ingedien word.
9.2 Die organiseerder sal die grief ondersoek, onder die sportbestuurder se aandag bring en dit dan hanteer volgens die skool se grieweprosedure.

10. OUERS/TOESKOUERS
10.1 Ouers se ondersteuning word te alle tye hoog op prys gestel.
10.2 Ouers mag nie met spankeuses en oefeninge inmeng nie. Indien ‘n ouer ‘n probleem het, moet dit skriftelik by die organiseerder ingedien word.
10.3 Enige ouer wat hom/ haar wangedra tydens wedstryde /oefeninge mag deur die betrokke afrigter, organiseerder of lid van die personeelbestuur gevra word om die terrein te verlaat.
10.4 Indien ‘n ouer hom/ haar herhaaldelik aan wangedrag skuldig maak, sal die Beheerliggaam teen die ouer optree.

11. PRESTASIETOEKENNINGS

11.1 BETROKKENHEIDSSERTIFIKAAT: Elke leerder wat die skool een keer amptelik verteenwoordig het, of as reserwe opgetree het, sal ‘n betrokkenheidsertifikaat ontvang.
11.2 PRESTASIESERTIFIKATE: Ligawenners en spelers wat in kring-en streeksspanne opgeneem word, ontvang prestasiesertifikate.
11.3 LAPELWAPEN: Spelers wat die provinsiale span haal ontvang ‘n lapelwapen.
11.4 EREROL; ‘n Speler wat aan ‘n nasionale week deelneem as lid van die provinsiale span, se naam word op die ererol van die skool geplaas.
11.5 TROFEË: Trofeë wat deur persone en instansies geskenk is, word ook toegeken volgens voorafbepaalde kriteria.
11.6 Borge/ ouers kan trofeë vir die hele span skenk. Dit word op die Betrokkenheidsprysuitdeling uitgedeel, behalwe as die span ‘n ligawenner was en in elk geval na die Prestasieprysuitdeling toe sou gaan. (Hierdie reëling moet baie duidelik aan die ouers deurgegee word voor die prysuitdelings ‘n aanvang neem.)
11.7 Spelers wat in die provinsiale span opgeneem word sal R75.00 van die Beheerliggaam ontvang as erkenning.
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za