Aansoek vir advertensie spasie
Redenaarsbeleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: REDENAARSBELEID

Hierdie beleid onderskryf die skool se visie en missie

Hierdie beleid moet saam gelees word met die beleid en grondwette van die onderskeie organisasies aan wie se kompetisies ons deelneem.

1. DOELSTELLINGS

1.1 Bevordering van gewone Afrikaans by die skoolgaande jeug.

1.2 Die hoofdoel is nie die oordra van kennis aan die gehoor nie, maar die oorreding en beïnvloeding van die gehoor. Verder moet die toespraak behoorlik gestruktureer wees. M.a.w. dit moet ‘n inleiding, hoofdeel en ‘n slot hê.

1.3 Logiese, kreatiewe denke, selfvertroue en gevolglik leierskap is die hoofdoel vir die beoefening van die redenaarskuns, om die kind as toekomstige selfstandige en verantwoordelike volwassene op te lei.

1.4 Bevordering van die leerders se selfbeeld deur voor ‘n gehoor op te tree.

2. KOMPETISIES

2.1 Redenaarsaande word bepaal deur die organiseerder. Sulke aande word op die kwartaalprogram aangedui tydens die derde kwartaal vir Juniors ( Gr. 1-4) en die tweede kwartaal vir die Seniors ( Gr. 5-7).

2.2 Die beste vyf leerders in elke graad dring dan deur tot die skool se Algemene redenaarsaand in die vierde kwartaal.

2.3 Ons neem ook deel kompetisies soos die ATKV - Redenaarskompetisie , Radikale Redenaars en aan Plaaslike redenaarskompetisies soos bv. Die Sanlam Prestige redenaarskompetisie.

3. VOORBEREIDING VAN SPREKER

3.1 Toesprake moet in Afrikaans gelewer word. Aanhalings moet verkieslik in Afrikaans gebruik word. Deelnemers moet aanhalings uit ander tale gebruik, moet dit in Afrikaans verduidelik en toelig.

3.2 Alle deelnemers aan die Algemene redenaarsaand moet voorbereid wees om onvoorbereide toesprake te kan lewer. Sou hulle puntetelling onder die eerste ses deelnemers wees.

3.3 Leerders mag oor enige onderwerp praat met die voorgeskrewe temas as grondslag. Die enigste voorwaarde is dat die onderwerp of inhoud nie onwelvoeglik mag wees nie.

3.4 Toesprake moet oorredende, beredeneerde redevoering wees. Die hoofdoel van die toespraak is die beïnvloeding van die luisteraars. Die beïnvloedingsproses sal versterk word indien in die formulering van die onderwerp reeds ‘n aanduiding gegee word van die rigting waarin die gehoor beïnvloed gaan word, dit wil sê die onderwerp moet ‘n besliste stelling / standpunt bevat.

3.5 ‘n Toespraak wat voorheen deur of ‘n ander persoon in hierdie grade deelnames, of tydens ‘n ATKV - kompetisie gelewer is, mag nie weer gelewer word nie.

3.6 Die bronne waaruit die feite en inligting verkry is, moet vermeld word. Navorsing sluit nie aanhalings in nie aangesien dit onder taalgebruik en woordeskat ressorteer. Verder mag nie net na een bron vir die toesprake verwys word nie.

3.7 Die spreker moet sy / haar eie mening uitspreek oor hoe die bron die standpunt aanhaal. Die spreker kan van die bron verskil.

3.8 Visuele hulpmiddels kan gebruik word met die voorbehoud dat die slegs ONDERSTEUNEND tot die gesproke woord mag wees en geen spesiale fasiliteite daarvoor benodig word nie. Geen fasiliteite sal deur die organiseerders verskaf word nie. Indien visuele hulpmiddels, kaartjies of bewegings verkeerdelik aangewend word (gedramatiseerd) met ander woorde nie ondersteunend tot die inhoud nie sal die puntetoekenning vir “aanbieding” op die beoordelaarsvorm negatief beïnvloed word.

3.9 Leerders wat aan die graad redenaars deelneem en deurdring na die Algemene redenaarsaand maak gebruik van dieselfde toespraak waarmee hy aanvanklik deelgeneem het. Deelnemers moet eie toesprake gebruik en mag nie gepubliseerde toesprake of artikels woordeliks aanneem nie.

4. IDENTIFISERING VAN SPREKERS

4.1 Identifisering van sprekers lê grotendeels by die taalonderwysers aangesien hulle daagliks met mondelinge assessering besig is.

5. BEFONDSING / BEGROTING
5.1 Daar word jaarliks begroot vir redenaars onder die skool se kultuurbegroting. Leerders wat gekies word om aan kompetisies namens die skool deel te neem se inskrywingsgeld word deur die skool betaal.

6. SPREKERS SE KLEREDRAG EN GEDRAG

6.1 Deelnemers tree in skooldrag op.
Seuns: Grys langbroek, grys hemp met blou skooltrui / baadjie (opsioneel)
Dogters: Blou skoolrok met blou skooltrui / baadjie (opsioneel)

6.2 Sprekers moet 30 minute voor die aanvang van die kompetisie aanmeld.

6.3 Sprekers mag nie die lokaal verlaat tydens die kompetisies nie.

6.4 Sprekers moet voorbereid wees.

6.4 Sprekers moet tot aan die einde van die kompetisie aanwesig wees en moet wag vir die repliek.

7. REDENAARSAANDE

7.1 Bepaling van datums
Datums word bepaal deur die organiseerder. Die sperdatums van kompetisies waaraan ons deelneem sal ook ‘n rol speel by die bepaling van datums.

7.2 Onderwerpe
7.2.1 Daar sal gepoog word om vroegtydig die voorgeskrewe onderwerpe vanaf die ATKV of ander organisasies waaraan ons deelneem te kry.

7.2.2 Junior redenaars kies hulle eie onderwerpe - hou asseblief by die kind se ervaringsveld met die keuse daarvan.

7.3 Beoordeling
7.3.1 ‘n Voorgeskrewe vorm vir beoordeling word deur die beoordelaars gebruik soos deur die ATKV voorgelê.

7.3.2 Die beoordelaarsvorm sal ‘n halfuur voor elke uitdun breedvoerig deur die betrokke onderwyser verantwoordelik vir die reëlings met die beoordelaars bespreek word ten einde onduidelikhede uit te skakel.

7.3.3 Daar sal gepoog word om beoordelaars te kies wat op hoogte is met die nuutste tendens in redevoering.

7.3.4 Die beoordelaars se beslissing is finaal.

7.3.5 Daar sal waar moontlik drie, maar beslis nie minder as twee beoordelaars by elke uitdunne teenwoordig wees.

7.3.6 Mondelinge repliek sal na afloop van elke graad uitdun gelewer word deur die hoofbeoordelaar asook na afloop van die Algemene redenaarsaand.

8. LOKAAL
8.1 ‘n Kateder sal beskikbaar wees - hoewel die leerders nie verplig is om daarvan gebruik te maak nie.

9. TYDREËLS & PUNTETELLING
9.1 Voorbereide toesprake ‘n minimum van 4 minute tot ‘n maksimum van 5 minute - Gr. 5 - 7 en twee tot vier minute vir Gr. 1 - 3.

9.2 ‘n Tydhouer sal ‘n groen kaart / vlag opsteek wanneer die spreker die minimum tyd gepraat het. ‘n Halwe minuut daarna sal ‘n geel kaart opgesteek word en op die maksimum tyd sal ‘n rooi kaart / vlag opgesteek word.

9.3 Vir elke tien sekondes wat die deelnemer minder / meer as die voorgeskrewe tyd praat sal een strafpunt deur die hoofbeoordelaar van die deelnemer se totale punt afgetrek word.

9.4 Die voorbereide toespraak tel 2 derdes van die algehele punt.

9.5 Die onvoorbereide toespraak tel ‘n derde van die algehele punt.

9.6 Indien ‘n leerder ‘n toespraak lewer wat nie betrekking het op een van die voorgeskrewe temas nie sal die deelnemer geen punte ontvang vir die inhoud nie. Die hoofbeoordelaar is verantwoordelik om toe te sien dat alle deelnemers hulle by die voorgeskrewe temas van die kompetisie hou.

10. ONVOORBEREID

10.1 Dit sal plaasvind indien die betrokke kompetisie dit vereis.

10.2 3 minute voorbereiding en 2 minute lewertyd. ‘n Tydhouer sal ‘n geel kaart / vlag opsteek een minuut voor die tyd verstreke is.

10.3 Slegs Senior redenaars sal na afloop van elke graad redenaarsaand onvoorbereide toesprake lewer.

10.4 Die onderwerp van die onvoorbereide toespraak word tydens die uitdun deur die beoordelaars bepaal.

11.PROGRAMME
11.1 Die program word deur die organiseerder saamgestel.

11.2 Die volgende inligting moet op die program verskyn:
12.2.1 Datum, tyd en plek
12.2.2 Name van sprekers asook onderwerpe en grade

11.3 Dit word beskikbaar gestel tydens die kompetisie.

12. APPèL EN GRIEWE
12.1 Enige teenstrydige optrede wat nie bogenoemde beleid onderskryf nie kan skriftelik (nie later as 24 uur van deelname) aan DEPARTEMENTSHOOFDE: TALE gerig word vir ‘n diepte ondersoek na die gebeure en sal nie langer as 7 dae na bg. datum afgehandel word nie.

13. PROSEDURES VIR REDENAARSAANDE

13.1 Opskerpingsessie vir beoordelaars deur die organiseerder van die aand.

13.2 Inligtingsessie aan leerderhulpe en onderwysers / ouers.

13.3 Opening, verwelkoming en bedankings - voorsitter

13.4 Ordereëlings - organiseerder van die aand

13.5 Toesprake (voorbereid en onvoorbereid)

13.6 Repliek en aankondiging van wenner.

13.7 Die organiseerder reël bedankingskaartjies asook geskenkies vir die beoordelaars.

13.8 Die organiseerder reël ook vir musiek, blomme en die rangskikking van die saal.

14. KEUSE VAN ‘N REDENAAR
14.1 Nie enige leerder is ‘n redenaar nie en ‘n redenaar moet voldoen aan die volgende vereistes:
14.1.1 ‘n Duidelike sterk stem sonder enige spraakgebreke

14.1.2 Selfvertroue

14.1.3 Sterk persoonlikheid

14.1.4 Standpunt inneem en handhaaf

14.1.5 Natuurlike manier van praat en ‘n baie goeie Afrikaanse taalgebruik.

15. PRESTASIETOEKENNINGS
15.1 Betrokkenheidsertifikate: Leerders wat aan die graad redenaarsaande deelgeneem het sal in aanmerking kom. Leerders wat by ander kompetisies die skool verteenwoordig het, sal ook in aanmerking kom.

15.2 Prestasiesertifikate: Sprekers wat as semi-finaliste vir die Algemene Redenaarsaande aangewys is ontvang ‘n prestasie sertifikaat. Sprekers wat aan streekskompetisies deelgeneem het, sal ook ‘n prestasiesertifikaat ontvang.

15.3 Lapelwapens: Sprekers wat aan ‘n provinsiale kompetisie deelgeneem het, sal ‘n lapelwapen ontvang.

15.4 Ererol: Sprekers wat aan ‘n nasionale kompetisie deelgeneem het, se naam sal op die ererol van die skool geplaas word.

15.5 Trofee: Parksport - Wisseltrofee: Beste Senior redenaar
Parksport - Wisseltrofee: Beste Junior redenaar. Die toekenning word deur die organiseerder in samewerking met die kultuurkoördineerder gedoen. Sprekers se prestasie deur die jaar word in ag geneem. 
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za