Aansoek vir advertensie spasie
Krieketbeleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: KRIEKETBELEID

Hierdie beleid moet gelees word saam met die “Framework for Collaboration” : Coordination and Management of School Sport in Public Ordinary Schools : 15 March 2005

Hierdie beleid moet ook gelees word saam met die Noordwes Laerskole krieketbeleid asook die beleid van die Rustenburg-Brits Laerskole Krieketvereniging.

Dit onderskryf ook ons skool se visie en missie in die algemeen en spesifiek ten opsigte van sport.

1. DOELWITTE
1.1 Om die leerders se vaardighede en potensiaal t.o.v. krieket te ontwikkel.
1.2 Om liefde vir die spel aan te moedig
1.3 Om goeie sportmangees te ontwikkel by die spelers.
1.4 Blootstelling en deelname

2. LIGA
2.1 Die organiseerder in samewerking met die hoof en afrigters besluit hoeveel spanne in die plaaslike liga ingeskryf gaan word.
2.2 Die volgende spanne word in die liga ingeskryf: 0/9A; 0/10A; 0/11A; 0/13 A en B
2.3 Wedstrydbepalings word aan die skool deurgegee vanaf die Rustenburg/ Brits sub-unie.
2.4 Elke afrigter tree op as sy span se skeidsregter tydens ligawedstryde. In die geval van uitspeelwedstryde in Noordwes moet onpartydige skeidsregters gereël word. Die skool dié betrokke skeidsregters vergoed.
2.5 Ouderdomme word bepaal deur die Noordwes Krieketunie en moet so toegepas word.

3. VRIENDSKAPLIKE WEDSTRYDE
3.1 Dit word deur die organiseerder en afrigters gereël. Dit sluit ook voorseisoen wedstryde in.
3.2 Reëlings vir vriendskaplike wedstryde moet skriftelik deur elke afrigter betyds aan die spelers deurgegee word. Indien moontlik moet hierdie wedstryde ook op die kwartaalprogram aangedui word.

4. PLIGTE VAN DIE SPORTBESTUURDER, DIE ORGANISEERDER EN AFRIGTERS
4.1 SPORTBESTUURDER
4.1.1 Die sportbestuurder word deur die Beheerliggaam aangestel.
4.1.2 Die sportbestuurder moet toesien dat die beleid geïmplementeer en toegepas word.
4.1.3 Die sportbestuurder moet ‘n lêer vir elke sportsoort in sy kantoor hê.
4.1.4 Die sportbestuurder stel die organiseerders in samewerking met die skoolbestuur aan.
4.1.5 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die maandelikse verslag aan die Beheerliggaam asook die weeklikse verslae aan die hoof. Hy/ sy moet ook toesien dat die sportsoorte die nodige dekking in die koerante en op die webblad geniet.
4.1.6 Die sportbestuurder dien op die sportkomitee van die Beheerliggaam.
4.1.7 Die sportbestuurder reël vergaderings van die sportkomitee in samewerking met die betrokke Beheerliggaamlid en skoolbestuur.
4.1.8 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die voorbereiding van bane/ velde voor wedstryde.
4.1.9 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die kontrole en beheer van sportvoorraad en voorraadopnames.
4.1.10 Die sportbestuurder reël afrigtingsklinieke, reëlbesprekings en eksamens in samewerking met die organiseerder.
4.1.11 Die sportbestuurder kontroleer die betalings van buite-afrigters voordat dit ingestuur word vir betaling.
4.1.12 Die sportbestuurder hanteer griewe en dispute wat na hom/ haar verwys is.
4.1.13 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die opstel en bestuur van die begroting in samewerking met die organiseerders.
4.1.14 Die sportbestuurder reël busvervoer indien nodig en stel die bedrag vas wat elke speler/ deelnemer moet betaal.
4.1.15 Die sportbestuurder doen die toekennings vir trofeë vir die prysuitdeling in samewerking met die organiseerders.

4.2 ORGANISEERDER
4.2.1 Die organiseerder is verantwoordelik vir die organisatoriese aspekte van ligas/ wedstryde/ byeenkomste in samewerking met die afrigters.
4.2.2 Die organiseerder wys die afrigters/ skeidsregters/ beamptes aan in samewerking met die sportbestuurder.
4.2.3 Die organiseerder stel die begroting op in samewerking met die afrigters en bespreek dit met die sportbestuurder.
4.2.4 Die organiseerder moet reël dat die bane/ velde voorberei word vir wedstryde/ byeenkomste. Die voorbereiding van die veld/ bane is die verantwoordelikheid van die sportbestuurder.
4.2.5 Die organiseerder stel die oefentye vas in samewerking met die skoolbestuur en organiseerder.
4.2.6 Die organiseerder kontroleer die afrigters ten opsigte van oefentye, bywoningsregisters ens.
4.2.7 Indien daar van buite-afrigters gebruik gemaak word, moet die organiseerder ‘n tydkaart byhou en aan die einde van elke maand instuur aan die sportbestuurder, sodat die betaling aan die afrigter gemaak kan word.
4.2.8 Die organiseerder is verantwoordelik vir die uitslae/ verslag aan die sportbestuurder op ‘n Maandag en ook vir die terugrapportering in die saal.
4.2.9 Die organiseerder woon ook die jaarvergadering en ander vergaderings soos nodig, vir die betrokke sportsoort by.
4.2.10 ‘n Volledige, gedetailleerde pligstaat is beskikbaar by die sportbestuurder.

4.3 AFRIGTERS
4.3.1 Afrigters word deur die organiseerder in samewerking met die sportbestuurder aangewys.
4.3.2 ‘n Afrigter neem volle verantwoordelikheid vir sy/ haar span. Elke afrigter moet ‘n spanlys hê van die leerders wat by die betrokke item/ span oefen.
4.3.3 Die afrigter moet sorg dra dat hy/ sy op hoogte is van die nuutste reëls en afrigtingstegnieke.
4.3.4 Die afrigter is verantwoordelik vir die opwarming, fiksheid en afrigting van die span aan hom/ haar toegewys.
4.3.5 Die afrigter moet toesien dat die spelers/ deelnemers korrek volgens voorskrifte geklee is.
4.3.6 Die afrigter is verantwoordelik vir die evaluering van spelers met die oog op die maak van spankeuses. Dit kan ook as motivering vir die spelers dien. Die evaluering sal van tyd tot deur die sportbestuurder gekontroleer word.
4.3.7 Die afrigter reël die vervoer van spelers/ deelnemers en voltooi ook die dokumentasie vir toestemming van die Onderwysdepartement.
4.3.8 Afrigters moet te alle tye voorbereid en met geskikte kleredrag by die oefeninge/ wedstryde/ byeenkomste opdaag. Gemaklike sportdrag soos bv. T-hemp, kortbroek tydens oefeninge. By wedstryde word eenvormige drag gedra soos deur die Krieketunie voorgeskryf..
4.3.9 Indien daar nie genoeg onderwysers is om al die spanne af te rig nie, mag daar van afrigters van buite of ouers gebruik gemaak word.
4.3.9.1 Die buite-afrigters se aanstellings word deur die sportbestuurder in samewerking met die Beheerliggaam bekragtig.
4.3.9.2 Die sportbestuurder sal ook die buite-afrigter gradeer en dié afrigters sal dan volgens die skaal vergoed word. Die onderwyser by die betrokke ouderdom waar die buite-afrigter diens doen moet sorg dra dat die ure op die staat aangeteken word.
4.3.9.3 Die gradering van buite-afrigters is soos volg :
4.3.9.4 Vergoeding per uur sal bepaal word volgens die bedrag wat in die begroting toegestaan is. Die alternatief is ‘n honorarium aan die einde van die seisoen.
4.3.10 Afrigters moet deurentyd kursusse bywoon, reëlbesprekings bywoon en eksamens aflê soos wat dit van hulle verwag word.

5. ORGANISEERDER
5.1 Die organiseerder word deur die sportbestuurder in samewerking met die skoolbestuur aangewys.
5.2 Die organiseerder en die sportbestuurder is verantwoordelik vir die uitvoering van die beleid.
5.3 Prosedurestaat vir die sportbestuurder/ organiseerder:
5.3.1 Uitnodigings
5.3.1.1 Beplan vroegtydig
5.3.1.2 Skakel skole
5.3.1.3 Bedank per brief indien uitnodiging aanvaar is.
5.3.1.4 ‘n Brief wat alle reëlings bevat volg 2 weke voor wedstryde

5.3.2 Bestuursvergadering
5.3.2.1 Ligabepalings vir die jaar
5.3.2.2 Vasstelling van affiliasie
5.3.2.3 Uitspeelwedstryde / finale wedstryde (vasstelling van plek en vorm)

5.3.3 Voorbereiding van krieketblad vir die seisoen
5.3.3.1 Instandhouding van krieketveld is die sportbestuurder se verantwoordelikheid.
5.3.3.4 Merk van veld aan die begin van oefenseisoen en voor elke wedstryd

5.3.4 Interne vergadering
5.3.4.1 Bespreek korrespondensie
5.3.4.2 Toekenning van spanne aan verskillende afrigters
5.3.4.3 Bepaling van oefentye
5.3.4.4 Skakeling met ander afrigters indien nodig
5.3.4.5 Uitdeel van apparaat / truie - afrigters teken daarvoor
5.3.4.6 Begroting

5.3.5 Bywoning van afrigtingsklinieke

5.3.6 Toere
5.3.6.1 Organiseerders in samewerking met afrigters bepaal watter spanne gaan toer. Dit is nie verpligtend nie.
5.3.6.2 Reël ‘n ouervergadering voordat finale reëlings getref word. Tydens dié vergadering word die ouers breedvoerig ingelig oor die toer. Die uiteensetting van die koste moet tot in die fynste besonderhede aan die ouers voorgelê word. Honorariums vir afrigters is R150 per dag wat deel van die toer begroting uitmaak wat deur die spelers betaal moet word.
5.3.6.3 Spelers word voorsien van briewe waarin alle reëlings asook die koste verduidelik word.
5.3.6.4 Die koste vir die toer kan nie deur die skool gedra word nie. ‘n Leerder wat dus nie die volle geld betaal het voordat die toer begin nie, sal nie die toer kan meemaak nie. Daar kan van borge gebruik gemaak word.
5.3.6.5 Borgbriewe kan deur die skool aan die spelers/ ouers voorsien word. Elke brief moet genommer word en aangeteken word teenoor die speler/ ouer se naam. Die toerorganiseerder moet kontrole uitoefen dat elke borgbrief terugbesorg word en die geld wat verkry is, inbetaal is.
5.3.6.6 Aan die einde van die toer moet die al die nodige dokumentasie saam met ‘n LP 45 ingehandig word.

5.3.7 Gradering van skeidsregters
5.3.7.1 Eksamen
5.3.7.2 Opleiding van voornemende skeidsregters deur bekwame persone

5.3.8 Ligawedstryde
5.3.8.1 Skakel met besoekers: aantal spanne / skeidsregters / tyd
5.3.8.2 Reël verversings
5.3.8.3 Noodhulp
5.3.8.4 Water/ koeldrank vir halftyd

5.3.9 Besoek aan ander skole
5.3.9.1 Vervoer (soort en onkoste)
5.3.9.2 Aantal spanne
5.3.9.3 Afrigters en skeidsregters wat van busvervoer gebruik wil maak
5.3.9.4 Toestemmingsbriewe van ouers om spelers te vervoer

5.3.10 Proewe
Proewe sal aan die begin van die seisoen gehou word om spanne te kies.

5.3.11 Jaarprogram aan ouers en afrigters. Briewe moet met die aanvang van die seisoen aan ouers gestuur word waarin alle reëlings deurgegee word. Die volgende inligting moet in die skrywe wees:
5.3.11.1 Voorseisoen oefentye en vriendskaplike wedstryde
5.3.11.2 Seisoen oefentye
5.3.11.3 Ligabepalings
5.3.11.4 Enige ander belangrike datums en reëlings
Enige reëlings wat verander moet skriftelik en vroegtydig deurgegee word.

5.3.12 Aan die einde van die seisoen moet daar ‘n volledige voorraadopname gedoen word. Alle te korte moet aan die adjunkhoof gerapporteer word. Afskrywing moet aan die beheerliggaam voorgelê word vir goedkeuring.

5.3.13 Begroting vir volgende seisoen moet voor die einde van September ingehandig word.

5.3.14 Uitslae: Die organiseerder moet elke week uitslae na die sportbestuurder stuur en ook reël dat ‘n speler terugvoering doen tydens saalopening Maandagoggend. Die spelers moet om die beurt geleentheid kry om terugvoering te doen.

5.3.15 Korrespondensie:
1. Alle fakse wat ontvang word moet aangeteken word. Die sportbestuurder moet afskrifte van alle fakse ontvang.
2. Alle korrespondensie moet deur die hoof mede-onderteken word.
3. Alle amptelike korrespondensie moet op die skool se briefhoof gedoen word.

5.3.16 Afsluitingsfunksies: Dit is nie verpligtend nie. Indien dit wel gereël word, sal daar ‘n gesamentlike afsluiting vir al die spanne na skool ure gereël word. Die organiseerder sal dit in samewerking met die afrigters en sportbestuurder reël.

6. BEFONDSING
6.1 Die organiseerder in samewerking met die afrigters stel jaarliks ‘n begroting op vir die volgende jaar. Dié begroting word dan met die sportbestuurder bespreek.
6.2 Slegs dit waarvoor begroot is, mag aangekoop word. Wanneer aankope gedoen moet word, moet ‘n LP 22 voltooi en ingehandig word. ‘n Behoorlike behoeftebepaling moet gedoen word voordat enige aankope gedoen word.
6.3 Geen skoolgeld sal aangewend word vir toere nie. Geld vir die toere moet deur die leerders self betaal word, of daar moet borge gewerf word.
6.4 Vir elke toer moet daar ‘n behoorlike begroting uitgewerk word en op ‘n LP 45 ingevul word. Dit moet aan die ouers van die betrokke span voorgelê word op ‘n vergadering.
6.5 Borgvorms en-briewe wat uitgedeel word, moet genommer word en op ‘n klaslys aangeteken word sodat behoorlike kontrole uitgeoefen kan word. Alle borgbriewe en-borgvorms moet ingehandig word voordat die toer begin. Elke leerder at geld inbetaal moet ‘n kwitansie ontvang Die volledige prosedure is in die skool se finansiële beleid.
6.6 Fondsinameling om fondse vir toere te genereer kan ook gereël word in samewerking met die hoof en die OOV.

7. KLEREDRAG
7.1 Tydens oefeninge dra die spelers ‘n t-hemp of Parkie-gholfhemp met ‘n blou kortbroek.
7.2 Wedstryde: Eenvormige kleredrag moet gedra word. Kolwers sal toegelaat word om ‘n skool sweetpakbroek te dra wanneer hy kolf. Alle spanne behalwe die eerste en tweede span speel met ‘n kort wit broek, Parkiehemde en blou kouse verkrygbaar by die skool se klerewinkel. Skoene moet oorwegend wit wees. Pette en breë rand hoede kan gedra word as dit deur ‘n borg voorsien word.

8. VERVOER
8.1 Daar moet toestemming van die Onderwysdepartement verkry word as leerders vervoer moet word. Die nodige dokumentasie moet ten minste twee weke voor die aanvang van die wedstryd ingestuur word vir goedkeuring.
8.2 Die skool subsidieer alle vervoer binne ‘n 70 km radius van die skool. Alle kilometers buite die radius moet deur die betrokke spelers betaal word. Die vervoerreëlings moet met die buitemuurse bestuurder gekoördineer word en die koste per speler bereken word n aanleiding van die kwotasie wat deur die vervoerkontrakteur aan die skool voorsien is.

9. OEFENINGE
9.1 Oefentye word deur die krieketorganiseerder in samewerking met die afrigters bepaal. Oefening sal ‘n aanvang neem sodra die rugbyliga afgehandel is. Spelers wat in streekspanne opgeneem word, moet by die betrokke gaan oefen en is self verantwoordelik vir vervoer na die oefeninge.
9.2 Oefeninge moet stiptelik bygewoon word. Die afrigter sal ook register hou van spelers wat die oefeninge bywoon
9.3 Indien ‘n oefening nie bygewoon kan word nie, moet daar by die afrigter verskoning gemaak word.

10. GRIEWEPROSEDURE
10.1 Alle griewe moet skriftelik by die organiseerder ingedien word.
10.2 Die organiseerder sal die grief ondersoek, onder die hoof se aandag bring en dit dan hanteer volgens die skool se griewe prosedure.

11. OUERS/TOESKOUERS
11.1 Ouers se ondersteuning word te alle tye hoog op prys gestel.
11.2 Ouers mag nie met spankeuses en oefeninge inmeng nie. Indien ‘n ouer ‘n probleem het, moet dit skriftelik by die organiseerder ingedien word.
11.3 Enige ouer wat hom/haar wangedra tydens wedstryde /oefeninge mag deur die betrokke afrigter, organiseerder of lid van die skool se personeelbestuur gevra word om die terrein te verlaat.
11.4 Indien ‘n ouer hom/haar herhaaldelik aan wangedrag skuldig maak, sal die Beheerliggaam teen die ouer optree.

12. PRESTASIETOEKENNINGS
12.1 BETROKKENHEIDSSERTIFIKAAT: Elke leerder wat die skool een keer amptelik verteenwoordig het, of as reserwe opgetree het, sal ‘n betrokkenheidsertifikaat ontvang.
12.2 PRESTASIESERTIFIKATE: Ligawenners en spelers wat in kring-en streeksspanne opgeneem word, ontvang prestasiesertifikate.
12.3 LAPELWAPEN: Spelers wat die provinsiale span haal ontvang ‘n lapelwapen.
12.4 EREROL; ‘n Speler wat aan ‘n nasionale week deelneem as lid van die provinsiale span, se naam word op die ererol van die skool geplaas.
12.5 TROFEë: Trofeë wat deur persone en instansies geskenk is, word ook toegeken volgens voorafbepaalde kriteria.
12.6 Borge/ouers kan trofeë vir die hele span skenk. Dit word op die Betrokkenheidsprysuitdeling uitgedeel, behalwe as die span ‘n ligawenner was en in elk geval na die Prestasieprysuitdeling toe sou gaan. (Hierdie reëling moet baie duidelik an die ouers deurgegee word voor die prysuitdelings ‘n aanvang neem.)
12.7 Boulers wat ‘n driekuns behaal sal die wedstrydbal ontvang asook die kolwer wat 100 lopies aanteken. Dié spelers sal ook ‘n sertifikaat ontvang.
12.9 Spelers wat in die provinsiale span opgeneem word sal R75.00 van die Beheerliggaam ontvang as erkenning.
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za