LAERSKOOL PROTEAPARK INKLUSIEWE ONDERWYS: BELEID.
Wat is inklusiewe onderwys?
Inklusiewe onderwys word gedefinieer as 'n leeromgewing wat die persoonlike, akademiese en professionele ontwikkeling van alle leerders ongeag ras, klas, geslag, vermoëns, geloof, kultuur, seksuele voorkeure, leerstyle en taal bevorder. Volgens die Grondves van menseregte 29 het almal die reg tot opvoeding.
Volgens Witskrif 6 van Julie 2001 word inklusiewe onderwys as volg gedefinieer:
• Alle leerders kan leer en benodig ondersteuning.
• Alle leerders is verskillend met verskillende behoeftes.
• Onderrigstrukture-, sisteme en leermetodes moet in die behoeftes van alle leerders voorsien.
• Leer strek verder as formele leer – dit vind ook sosiaal plaas in die gesins- en gemeenskapsopset.
• Houdings, gedrag, onderrigmetodes, kurrikula en omgewing moet aangepas word om in alle leerders se behoeftes te voorsien.
• Leergeleenthede moet vergroot en leerhindernisse verklein word.
• Begaafde leerders moet bemagtig word deur die ontwikkeling van hulle sterk punte en geleentheid gebied word om krities aan die leerproses deel te neem, terwyl leergestremde leerders begelei moet word om agterstande te oorkom.Die Nasionale kurrikulum volg 'n benadering waarin alle leerders se spesiale opvoedkundige behoefte voorsien word.
Wat is die verskillende struikelblokke tot leer?
Struikelblokke tot leer en leerbehoeftes kan uit die volgende probleme bestaan, en dit kan a.g.v. permanente probleme, onlangse beserings, of fluktuerend wees.
• Fisiese, verstandelike, sensoriese, neurologiese en ontwikkelingsprobleme
• Psigososiale versteurings
• Verskillende intellektuele vermoëns
• Sekere lewenservarings
• Sosio-ekonomiese faktore
• Negatiewe houdings tot en stereotipering van verskille
• Onbuigbare kurrikulums
• Onvoldoende taal
• Onvoldoende kommunikasie
• Ontoeganklike en onveilige omgewings
• Onvoldoende ondersteuning
• Onvoldoende beleide
• Onbetrokkenheid van ouers.
• Onopgeleide en onvoldoende onderwysers
In inklusiewe onderwys word die onderwyser gekonfronteer met uitdagings en akkommodasie in verskeidenheid leerstyle. Dit impliseer dat onderrigstyle baie meer buigbaar moet wees om al die behoeftes van die leerders te kan aanspreek. Onderwysers is sentraal in die sukses van inklusiewe onderwys maar hulle behoort bygestaan te word deur die skool, beheerliggame, ouers en al die amptenare van die Onderwyser bestuurs en ontwikkelings sentrums.
Wat is die doel van inklusiewe onderwys?
Dat leerders met verskillende gestemdhede 'n skool kan bywoon wat so na as moontlik is aan die vereistes en norme van ©° skool waar ander leerders skoolgaan. Die skool moet ook voorsiening maak dat hierdie leerders se regte nie gestrem word nie en dat hulle die reg het om 'n normale lewe te lei terwyl daar voorsiening gemaak word vir hulle gestremdhede.
Wat is Laerskool Proteapark se fokus met betrekking tot inklusiewe onderwys?
• Om aan alle leerders die geleentheid te bied om binne die hoofstroom onderrig te ontvang.
• Om leerders wat andersins nie in die hoofstroom opgeneem sou word nie die geleentheid te bied om te leer.
• Om 'n inklusiewe onderrigsisteem te ontwikkel wat leerders met probleme kan identifiseer en aan hulle hulpverlening en ondersteuning kan bied.
• Om aan inklusiewe leerders 'n gevoel van “behoort” te gee.
• Om'n verskeidenheid metodes te ontwikkel wat ondersteunend aan die kurrikulum is.
• Om daarna te streef om toegang, gelykheid, kwaliteit en sosiaal regverdige onderwys te gee.
• Om multivlak onderwys daar te stel.
Die doel van hierdie inklusiewe beleid:
1. Hierdie beleid word saam met die beleide van die ander fases in die skool toegepas.
2. Die doel van hierdie beleid is om te verseker dat alle leerders in ons skool onderrig ontvang volgens sy/haar vermoëns binne klasverband omdat elke kind die vermoë het om te kan leer.
3. Om te verseker dat inklusiewe onderwys realisties en effektief geïmplementeer word.
4. Om onderwysers te lei om leerders inklusief te onderrig, te begelei en te vorm tot gelukkige gesonde kinders.
5. Om te verseker dat leer sal plaasvind in 'n geordende en stimulerende leeromgewing waar leerders respek en sekuriteit ervaar.
Ons missie:
Om leerders wat inklusiewe onderrig ontvang te lei om deurentyd gereed te wees om Geletterdheid met lewensvaardighede te bemeester om die eise wat wag in die samelewing, suksesvol te kan hanteer. Ook om inklusiewe leerders te begelei om as volwassenes suksesvol te kan wees, om selfversorgend te wees en selfstandig te kan optree.
Samestelling en werking van die individuele leerders ondersteunings komitee (ILST):
De doel van hierdie komitee is hoofsaaklik om na die vordering van die leerders om te sien maar om ook aan die onderwysers hulp en leiding te gee. Die komitee kan ook ander skole van hulp en raad bedien.
Hierdie komitee se doel verder om:
• Ondersteuningsprogramme voor te stel aan ouers en onderwysers
• Die onderwysers in die klaskamer te ondersteun
• Ondersteuningsprogramme te monitor
• Enige hulp aan leerders of personeel te identifiseer
• Onderwysers te bemoedig en te ondersteun
• 'n Ondersteuningsirkel op die been te bring wat kan hulp verleen aan die komitee bv. arbeidsterapeute, medici, spraakterapeute, beraders, ens.
• Alle ondersteuning te koördineer en duplisering te vermy
• Programme en strategieë te ontwikkel wat die verskillende behoeftes aan- spreek
• Leerders te verwys vir verdere gespesialiseerde hulp
• Nou saam met die DBST te werk
• Nou saam te werk met ander spesiale skole en “resource centres” om die beste ondersteuning vir hulle skool te kry
Die samestelling van die ondersteuningskomitee ( ILST):
• Departementshoofde van verskillende fases en afdelings
• Alle personeel met kennis van remediëring
• Die skoolhoof
• 'n Verteenwoordiger van elke graad, indien daar nie 'n departementshoof is nie.
Hierdie beleid word saam met die ander fasebeleide gebruik. Daar word dus aangepas volgens hierdie riglyne.
Skolasties:
Sodra 'n leerder geïdentifiseer is dat hy/sy inklusiewe hulp nodig het, word daar eers bepaal op watter graad die leerder wel kan werk.
Bv. Indien die leerder in Gr. 3 is en ernstige probleme ondervind, moet die klasonderwyser gebruik maak van die graad 2 assesseringstandaarde. Indien die leerder nog sukkel, word die Gr. 1 As’e gebruik (“Design down”). Hierdie “afskaling” van sy werk word aangeteken. Wanneer die leerders so hanteer word, word daar op die verslag 'n aantekening gemaak van die vlak waarop hy geassesseer is en in watter graad hy werklik is.
Eksamenhulp:
Daar word eksamenhulp verleen aan leerders met lees-, spelling- en skrifprobleme. By ernstige gevalle word gebruik gemaak van emmanuense. Ander leerders met bv. ADHD en AAD kry langer tyd om die vraestel te voltooi en hulle kan ook in ©° stiller lokaal skryf. Daar word ook vir leerders met skrifprobleme geskryf in eksamens.
Assessering en verslag:
Leerders in die klasse vir spesiale onderwysbehoeftes ontvang net gedurende Junie en in Desember rapporte. Leerders vorder individueel op hulle eie tempo en word dus nie klassikaal geevalueer nie. Elke leerder word gemeet aan die assesseringsstandaarde van die graad waarin hy/sy tans werk. Wanneer ‘n inklusiewe leerder in die hoofstroom op ‘n laer graad geassesseer word, word die graad gemeld waarop die leerder geassesseer is en ook die punt wat die leerder verdien het. Wanneer die leerder in alle vakke laer werk as sy werklike graad ontvang die leerder ‘n inklusiewe verslag en nie punte nie. Wanneer ‘n leerder in ‘n hoër graad as sy werklike graad geassesseer word, word die graad van assessering en die punt gemeld.
NB. HIERDIE BELEID IS TANS ‘N WERKSDOKUMENT WAARAAN BAIE UITBREIDINGS EN VERANDERINGE NOG AANGEBRING GAAN WORD.
Let wel: Die inklusiewe afdeling onderskryf die algemene skoolbeleid van Laerskool Proteapark.