Aansoek vir advertensie spasie
Grondwet vir Beheerliggaam

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK:
Grondwet van die beheerliggaam van 'n openbare skool ingevolge artikel 18 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (84 van 1996)

Aanhef

NADEMAAL die Suid-Afrikaanse Skolewet 1996 voorsiening maak vir 'n demokraties verkose beheerliggaam by elke openbare skool en daaraan die beheer van die skool, uitgesluit die professionele bestuur van die skool, opdra, en

NADEMAAL die beheerliggaam in 'n vertrouensposisie teenoor die betrokke skool staan en statutêre werksaamhede waaroor hy beskik moet uitoefen met inagneming van die regte van alle leerders, ouers en opvoeders, sowel as enige ander toepaslike regsbepaling, en

NADEMAAL daar aangeleenthede betreffende die funksionering van 'n beheerliggaam is wat nie deur ander regsbepalings gereguleer word nie en dit vereis word en nodig is vir die wettige en doelmatige funksionering van 'n beheerliggaam dat sy werksaamhede volgens 'n grondwet verrig moet word -

is die onderstaande goedgekeur as die grondwet van die beheerliggaam van

LAERSKOOL PROTEAPARK

Posadres : Posbus 20345 Straatadres : Soetdoringlaan 38
Proteapark Proteapark
0305 Rustenburg

Tel : 014 533 2080/1
Faks : 014 533 2522
E-pos : lsprotea@mweb.co.za
Webbladsy: www.lsproteapark.co.za

Naam en status

1.1 Die naam van die beheerliggaam is: "Die Beheerliggaam van

LAERSKOOL PROTEAPARK

1.2 Die beheerliggaam is die orgaan waardeur -

1.2.1 die skool as regspersoon sy wetlike bevoegdhede uitoefen in die verrigting van sy voorgeskrewe werksaamhede, en

1.2.2 die skool beheer word, onderworpe aan enige toepaslike regsreëls en die bepalings van hierdie grondwet.

2. Toepassing van grondwet

2.1 Die bepalings van hierdie grondwet bind alle lede van die beheerliggaam en vir sover toepaslik, alle persone of instansies in hul verhouding met die skool of die beheerliggaam.

2.2 Enige aangeleentheid betreffende 'n aspek van die beheerliggaam se status, samestelling, werksaamhede, pligte of funksionering waaroor hierdie grondwet nie 'n bepaling bevat nie word gereguleer deur die toepaslike algemene regsbepalings wat daarmee handel.

3. Woordomskrywing en uitleg

3.1 In hierdie grondwet, tensy uit die samehang ander blyk, het woorde of begrippe wat nie spesifiek omskryf is nie dieselfde betekenis as wat hulle ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1986 (Wet 84 van 1996) het en beteken :

(i) "ampsdraer" 'n ampsdraer in artikel 7.1 na verwys.
(ii) "beheerliggaam" dis wetlik gekonstitueerde beheerliggaam van die skool;
(iii) "grondwet" die grondwet in hierdie dokument vervat;
(iv) "leerder 'n leerling van die skool.
(v) "lid" iemand wat 'n lid van die beheerliggaam is:
(vi) "ondervoorsitter" die ondervoorsitter van die beheerliggaam.
(vii) "prinsipaal" die prinsipaal van die skool.
(viii) "sekretaris" die sekretaris van die beheerliggaam.
(ix) "skool" Laerskool Proteapark
(x) "tesourier" van die beheerliggaam
(xi) "uitvoerende komitee" die uitvoerende komitee van die beheerliggaam.
(xii) "voorsitter" die voorsitter van die beheerliggaam.

3.2 By die uitleg van 'n bepaling in die grondwet word voorkeur gegee aan enige redelike uitleg wat sal verseker dat die betrokke bepaling bestaanbaar is met 'n nasionale of provinsiale wet uitgevaardig is bo enige alternatiewe uitleg wat 'n teenstrydigheid met een of meer van die vermelde bepalings tot gevolg sal hê.

AFDELING A : OOGMERKE EN DOELSTELLINGS VAN DIE BEHEERLIGGAAM

Die visie van Laerskool Proteapark

* Ons sien ‘n skool met ‘n Christelike karakter wat volgens effektiewe besigheidsbeginsels bestuur word.
* In hierdie skool sal kinders hoogstaande begeleiding ontvang van uiters bekwame en emosioneel gesonde en gelukkige personeel
* Dit alles sal geskied in ‘n omgewing waar faliliteit en sekuriteit van die beste gehalte is.
* Ons sien tevrede en betrokke ouerswat ‘n integrale deel vorm van die hele proses om kinders te begelei na ‘n lewe vol wonderlike uitdagings.

Die missie van Laerskool Proteapark
Om geletterde, lewensvaardige en inherent gelukkige kinders te begelei sodat hulle fisiek, emosioneel, sosiaal en geestelik opgewasse sal wees om die eise wat die samelewing aan hulle stel gaan stel, suksesvol te kan hanteer.

MISSIE : BEHEERLIGGAAM
Om as amptelike en lojale mondstuk van die ouergemeenskap, die pligte en verantwoordelikhede wat aan hom opgedra is, met behoud van die Christelike beginsels en erkenning aan Afrikaans, in beste belang van die skoolgemeenskap uit te voer.

4. Die oogmerke en doelstellings van die beheerliggaam is om binne sy vermoë, enige toepaslike regsbepalings en die bepalings van die grondwet :

4.1 die beheer en bestuur van die skool wat aan hom opgedra is op 'n wettige, kundige, verantwoordelike en koste-effektiewe wyse is behartig;

4.2 deurgaans die beste belange van die skool te bevorder;

4.3 enige bedreiging vir die beste belange van die skool betyds te identifiseer en gepaste stappe daaromtrent te doen;

4.4 enige onregmatige ontwrigting of moontlik onregmatige ontwrigting van die onderwysproses by die skool te voorkom of teen te gaan;

4.5 die voorsiening van onderwys van die hoogste moontlike gehalte in die heersende omstandighede aan alle leerders in die skool is verseker;

4.6 die ontwikkeling van die skool te bevorder deur die gehalte van opvoeding vir alle leerders te probeer verhoog;

4.7 al sy pligte teenoor die leerders, ouers en opvoeders van die skool, enige ander belanghebbende persoon of liggaam en die staat behoorlik na te kom;

4.8 die regte van alle leerders, ouers en opvoeders van die skool te handhaaf en om die aanvaarding van verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiëring van die skool in vennootskap met die staat te bevorder;

4.9 die fondse en ander bates van die skool sowel as die bates van die staat of andere wat deur die skool gebruik word op die beste moontlike wyse te bestuur of te laat bestuur, en

4.10 die hulpbronne deur die staat aan die skool voorsien deur redelike maatreëls aan te vul.

AFDELING B : SEKERE WERKSAAMHEDE, BEVOEGDHEDE EN PLIGTE VAN DIE BEHEERLIGGAAM EN VAN SY LEDE

5.1 Die beheerliggaam se doelstellings word nagestreef of verwesenlik deur die verrigting van die werksaamhede en die uitoefening van die bevoegdhede in hierdie artikel na verwys.

5.2 Die beheerliggaam verrig alle werksaamhede wat hy uitdruklik regtens kan of moet verrig sowel as alle werksaamhede wat redelikerwys noodsaaklik is om eersgenoemde werksaamhede doeltreffend te kan verrig.

5.3 Ons beheerliggaam beskik oor alle bevoegdhede wat op 'n gegewe tydstip uitdruk-lik regtens aan hom verleen is sowel as alle verdere bevoegdhede wat redelikerwys noodsaaklik is vir die uitoefening van eersgenoemde bevoegdhede.

5.4 Tensy daar 'n regsbepaling tot die teendeel is, word alle werksaamhede en bevoegdhede van die beheerliggaam, of enige komitee of lid van die beheerliggaam verrig of uitgeoefen, na gelang die geval, op die wyse in die grondwet beskryf of ingevolge die grondwet voor voorsiening gemaak.

5.5 Die delegering van enige werksaamheid of bevoegdheid deur die beheerliggaam aan die uitvoerende komitee of aan enige ander komitee van die beheerliggaam of aan enige persoon verminder nie die beheerliggaam om, na behoorlike oorweging van al die regsgevolge van so 'n besluit, daardie werksaamheid self te verrig of die bevoegdheid self uit te oefen of om iemand anders te magtig om dit te doen nie.

5.6 Elke lid van die beheerliggaam openbaar in al sy of haar handelinge waar enige regte of belange van die skool of van enige ouer, leerder, opvoeder of ander werknemer van die skool geraak word, die hoogste mate van goeie trou.

5.7 Die beheerliggaam en elke lid daarvan tree deurgaans so op dat daar geen redelike gronde vir die departementshoof bestaan om enige bestaande werksaamheid van die beheerliggaam in te trek nie en dat indien dit regtens moontlik is of word, die beheerliggaam verdere werksaamhede kan verwerf.

5.8 Elke lid van die beheerliggaam hou hom of haar op hoogte van alle wetlike bepalings, regulasies en amptelike kennisgewings wat op die funksionering van die beheerliggaam en enige komitee daarvan van toepassing is en dra binne sy of haar vermoë sorg dat aan sodanige bepalings voldoen word.

5.9 Die beheerliggaam sluit aan by 'n vrywillige vereniging wat beheerliggame van openbare skole verteenwoordig en by enige ander vereniging of liggaam wat ten doel het om die onderwys of die handhawing van fundamentele regte in die onderwys te bevorder, indien en vir so lank as sodanige lidmaatskap in die beste belang van die skool is.

AFDELING C : VERTEENWOORDIGINGSBEVOEGDHEID EN REGSAANSPREEKLIKHEID.

6.1 Behoudens die bepalings van die grondwet en enige ander toepaslike regsreël is die skool aanspreeklik vir enige kontrak of ander regshandeling namens die skool aan gegaan of verrig deur die beheerliggaam in die uitvoering van sy wetlike werksaamhede, of deur 'n lid van die beheerliggaam behoorlik daartoe gemagtig.

6.2 'n Kontrak wat 'n plig op die skool plaas en enige handeling wat die bates waarin die skool enige regte het vervreem of beswaar, insluitende die sessie van 'n reg wat aan die skool toekom of die verpanding van 'n vorderingsreg, mag slegs aangegaan of verrig word, na gelang die geval, deur 'n persoon wat behoorlik deur die beheerliggaam daartoe gemagtig is en mits so 'n persoon handel binne die bestek van die bedoelde magtiging.

6.3 Die beheerliggaam handel met enige vaste eiendom wat die skool okkupeer of gebruik volgens al die regsvoorskrifte wat in die betrokke geval van toepassing is.

6.4 Geen regsproses word namens die skool ingestel of verdedig sonder die skriftelike magtiging van die beheerliggaam nie.

6.5 Geen lid van die beheerliggaam mag sonder die vooraf verkreë skriftelike toestemming van die beheerliggaam -

6.5.1 in enige geskil of geding waarby die skool of die beheerliggaam betrokke is enige erkennings maak, van enige regte afstand doen, enige skikking bereik of die regsposisie van die skool of die beheerliggaam in enige opsig verswak of potensieël verswak nie;

6.5.2 ten aansien van enige skuld wat aan die skool verskuldig is voldoening erken of aanvaar nie behalwe by volle en onvoorwaardelike betaling of prestasie;

6.5.3 ten aansien van enige skuld wat aan die skool verskuldig is, kwytskelding verleen, geheel of gedeeltelik afstand van regte doen, 'n skikking bereik, skuldvernuwing aangaan, uitstel van betaling of prestasie verleen, 'n ooreenkoms oor betaling in paaiemente bereik, of die regsposisie van die skool in enige ander opsig verswak of potensieel verswak nie.

6.5.4 in enige aangeleentheid wat moontlik, 'n las op die skool kan plaas aanspreeklikheid namens die skool of die beheerliggaam erken nie; en

6.5.5 enige vrywaring aan enigiemand verleen wat tot nadeel van die skool kan strek nie.

6.6 'n Minderjarige lid van die beheerliggaam het nie die bevoegdheid om namens die beheerliggaam te kontrakteer nie. So 'n lid loop geen persoonlike aanspreeklikheid vir enige gevolge van sy of haar lidmaatskap van die beheerliggaam op nie.

AFDELING D: SAMESTELLING, AMPSDRAERS EN AMPSTERMYN VAN DIE BEHEERLIGGAAM

7.1 By die eerste vergadering van die beheerliggaam en daarna so dikwels as wat dit nodig mag wees, kies die aanwesige lede die volgende ampsdraers;

7.1.1 'n voorsitter;
7.1.2 'n ondervoorsitter;
7.1.3 'n tesourier;
7.1.4 'n sekretaris;
7.1.5 enige ander ampsdraers wat die beheerliggaam nodig mag vind om aan te wys onderworpe aan sodanige voorskrifte as wat hy mag neerlê.

7.2 Die ampsdraers van die beheerliggaam oefen al die werksaamhede en bevoegdhede uit en kom alle pligte na wat regtens of ingevolge die grondwet aan hulle verleen of opgelê word.

7.3 Wanneer die voorsitter afwesig is of nie in staat is om sy of haar werksaamhede as voorsitter te verrig nie, of wanneer die amp van voorsitter vakant is, moet die ondervoorsitter gedurende die afwesigheid of onvermoë van die voorsitter of totdat 'n voorsitter verkies word as voorsitter waarneem. Indien sowel die voorsitter as die ondervoorsitter afwesig is of nie in staat is om die werksaamhede van die voorsitter te verrig nie, of wanneer sowel die amp van die voorsitter as dié van die ondervoorsitter vakant is, moet die beheerliggaam 'n ander voorsitter kies gedurende bedoelde afwesigheid of onvermoë of totdat 'n voorsitter of ondervoorsitter verkies word.

7.4 Die beheerliggaam kan waarnemende ampsdraers aanwys om tydelik namens 'n ampsdraer op te tree indien laasgenoemde afwesig is of nie in staat is om sy of haar werksaamhede te verrig nie of indien die betrokke amp vakant is.

AFDELING E : VERGADERINGS VAN DIE BEHEERLIGGAAM

8.1 Die lede van die beheerliggaam vergader so dikwels as wat dit in die omstandighede nodig of wenslik is maar moet ten minste een maal elke skoolkwartaal vergader.

8.2 Die voorsitter kan met inagneming van artikel 8.4 'n vergadering van lede belê op sodanige redelike datum, tyd en plek as wat hy of sy dit nodig of wenslik ag, maar moet 'n vergadering belê wanneer ten minste vir lede skriftelik so 'n versoek rig.

8.3 Die doel van elke vergadering is om aangeleenthede wat binne die regtens erkende doel en werksaamhede van die beheerliggaam val, te oorweeg, te bespreek en besluite daaroor te neem, na gelang die geval.

8.4 Die sekretaris, of iemand anders deur die voorsitter aangewys, moet kennis van ten minste vyf (5) werksdae van enige vergadering van die beheerliggaam aan al die lede gee. Daar moet redelike besonderhede van die datum, tyd, plek en agenda van die vergadering in die kennisgewing vervat word. Die kennisgewing moet vergesel word van alle dokumentasie of inligting wat 'n lid redelikerwys nodig het om voldoende vir die vergadering te kan voorberei. Die kennisgewing en enige meegaande dokumentasie moet persoonlik aan elke lid van die beheerliggaam oorhandig word of op 'n wyse mee gehandel word dat daar redelikerwys verwag kan word dat dit betyds in 'n lid se besit sal kom.

8.5 Tensy die reg of die grondwet in 'n bepaalde geval 'n andersluidende bepaling het, word elke vergadering van die beheerliggaam gehou volgens die algemeen aanvaarde en bekende reëls en beginsels van vergaderingsprosedure in Suid-Afrika.

8.6 Die kworum van die beheerliggaam is die helfte van die lede wat geregtig is om oor die relevante sake van die beheerliggaam te stem, plus een lid. Die beslissing van die meerderheid lede wat op 'n vergadering aanwesig is, maak die besluit van die beheerliggaam uit. Elke lid van die beheerliggaam het een stem. In die geval van 'n staking van stemme kan die voorsitter van die vergadering benewens sy of haar beraadslagende stem ook 'n beslissende stem uitbring.

8.7 Alle lede wat 'n vergadering van die beheerliggaam bywoon moet die presensieregister onderteken alvorens hulle die vergadering verlaat.

8.8 Tensy twee derdes van al die aanwesige lede anders besluit, hou die vergadering by die agenda waarvan vooraf kennis gegee is.

8.9 Die sekretaris, of 'n ander persoon deur die vergadering aangewys, hou 'n notule van elke vergadering van die beheerliggaam wat voldoende en redelike detail van die verrigtinge en al die besluite bevat. Met die goedkeuring van die beheerliggaam kan 'n bandopname van die vergadering of 'n deel daarvan gemaak word.

8.10 Die notule van elke vergadering word by die eersvolgende vergadering gelees. As daar 'n goeie rede is, kan die vergadering besluit om die lees van 'n notule vir 'n redelike tyd tot 'n ander vergadering uit te stel indien 'n notule deur die vergadering goedgekeur word, word dit deur die voorsitter en die sekretaris onderteken. Na sodanige ondertekening word daar vermoed, tensy die teendeel bewys word dat die notule 'n billike en korrekte weergawe van die betrokke vergadering is.

8.11 Met die goedkeuring van die meerderheid van die aanwesige lede kan 'n godsdienstige plegtigheid of seremonie deel van dié verrigtinge by 'n vergadering uitmaak.

8.12 Die beheerliggaam kan na goeddunke toestemming verleen dat enige persoon 'n vergadering van die beheerliggaam bywoon en 'n redelike geleentheid kry om die vergadering toe te spreek. Indien die werksaamhede van die beheerliggaam dit redelikerwys vereis, moet die beheerliggaam goedkeuring verleen dat enige persoon of kategorie van persone 'n vergadering van die beheerliggaam bywoon en 'n redelike geleentheid kry om die vergadering toe te spreek.

8.13 Wanneer die vergadering oor enige aangeleentheid stem, geskied sodanige stemming deur die opsteek van hande tensy die voorsitter na goeddunke anders bepaal of ten minste twee derdes van die aanwesige lede aandui dat 'n stemming op 'n ander wyse moet plaasvind.

8.14 'n Lid van die beheerliggaam moet die vergadering betyds inlig indien hy of sy of 'n familielid van hom of haar 'n finansiële of ander direkte persoonlike voordeel uit 'n bepaalde besluit van die beheerliggaam sal ontvang of waarskynlik sal ontvang. So 'n lid moet die vergadering verlaat vir die duur van die bespreking van en besluitneming oor die bedoelde aangeleentheid.

AFDELING F : KOMITEES VAN DIE BEHEERLIGGAAM

9.1 Die beheerliggaam maak so gou as wat dit wetlik vereis word, of andersins waneer dit nodig of dienstig is, voorsiening vir die instelling en funksionering van die volgende vaste komitees.

9.1.1 'n Uitvoerende komitee;
9.1.2 'n Finansiële komitee;
9.1.3 enige ander komitee soos benodig mag word.

9.2 Elke vaste komitee van die beheerliggaam word jaarliks deur die beheerliggaam aangewys. Die aantal lede van 'n komitee word deur die beheerliggaam bepaal.

9.3. Die beheerliggaam kan so dikwels as wat dit nodig mag wees 'n ad hoc-komitee aanwys om 'n werksaamheid deur hom omskryf op voorwaardes wat hy mag aandui, te verrig. Wanneer die beheerliggaam 'n ad hoc-komitee aanwys kan daar onderworpe aan die grondwet, na goeddunke voorskrifte gegee word in verband met die samestelling, voorsitter, enige ander ampsdraers en werksaamhede van die komitee en enige ander aangeleentheid, of sekere of al hierdie kwessies kan aan die komitee self oorgelaat word op sodanige voorwaardes as wat die beheerliggaam mag bepaal.

9.4 By die aanwysing van die lede van enige komitee gee die beheerliggaam behoorlike oorweging aan onder meer die aard van die werksaamhede wat die komitee moet verrig, die kundigheid of ondervinding van 'n bepaalde lid of ander persoon met betrekking tot die beoogde werksaamhede en die wenslikheid daarvan dat 'n bepaalde lid of persoon 'n lid van die komitee moet wees.

9.5. Elke komitee funksioneer ingevolge enige toepaslike regsvoorskrifte, die bepalings van die grondwet en enige riglyne wat die beheerliggaam van tyd tot tyd mag bepaal. Behoudens artikel 8.5 enige ander bepaling van die grondwet, enige andersluidende regsvoorskrifte of aanwysings van die beheerliggaam, bepaal elke komitee sy eie reëls en prosedures.

9.6. Tensy die beheerliggaam in 'n bepaalde geval of kategorie van gevalle anders bepaal, word die notules van vergaderings van 'n komitee sowel as verslae van die werksaamhede van 'n komitee, op sodanige redelike tyd aan die beheerliggaam voorgelê as wat die beheerliggaam mag bepaal.

AFDELING G : DIE UITVOERENDE KOMITEE

10.1 Die uitvoerende komitee bestaan uit die voorsitter, die ondervoorsitter, die sekretaris, die tesourier, die prinsipaal en soveel ander lede as wat die beheerliggaam van tyd tot tyd mag aanwys.

10.2 Die voorsitter en ondervoorsitter van die beheerliggaam tree in dieselfde hoedanighede ten opsigte van die uitvoerende komitee op.

10.3 Die uitvoerende komitee vergader op die datums wat van tyd tot tyd vir hierdie doel deur die beheerliggaam goedgekeur word en wat voorsiening moet maak vir ten minste een vergadering elke kalendermaand, tensy die beheerliggaam in die algemeen, of ten opsigte van 'n bepaalde tydperk, minder gereelde vergaderings goedgekeur het.

10.4 Die uitvoerende komitee vergader op die datums in artikel 10.3 neergelê of wanneer die voorsitter dit nodig en wenslik ag of wanneer twee lede van die uitvoerende komitee die voorsitter skriftelik daartoe versoek. Die voorsitter bepaal 'n redelike tyd en plek vir 'n vergadering. Die bepalings van artikels 8.3; 8.4; 8.5; 8.6; 8.7; 8.9; 8.10; 8.11; 8.12; 8.13; 8.14 is mutatis mutandis op vergaderings van de uitvoerende komitee van toepassing.

10.5 Die uitvoerende komitee is bevoeg om onderworpe aan enige toepaslike regsbepalings, die grondwet en enige voorskrifte van die beheerliggaam:

10.5.1 die opdragte van die beheerliggaam uit te voer.

10.5.2 Die werksaamhede of bevoegdhede wat deur die beheerliggaam daaraan gedelegeer is, te verrig of uit te oefen.

10.5.3 Indien aldus deur die beheerlliggaam daartoe gemagtig, 'n plig aan die beheerliggaam opgedra, na te kom, en

10.5.4 benewens die bepalings van artikel 10.5.1, 10.5.2 en 10.5.3 indien die omstandighede dit nodig of wenslik maak enige handeling te verrig of enige besluit te neem wat die beheerliggaam bevoeg is om te verrig of te neem, na gelang die geval, behoudens die bekragtiging daarvan deur die beheerliggaam so gou as wat dit in die omstandighede redelikerwys moontlik is.

10.6 Die uitvoerende komitee lewer by elke vergadering van die beheerliggaam verslag van sy aktiwiteite tydens die voorafgaande periode en lê aangeleenthede waarvoor die goedkeuring van die beheerliggaam nodig is, ter tafel, tensy die beheerliggaam weens 'n gegronde rede redelike uitstel vir sodanige voorlegging verleen.

AFDELING H : FINANSIËLE KOMITEE EN SEKERE FINANSIËLE PROSEDURES

11.1 Die finansiële komitee bestaan uit die voorsitter of ondervoorsitter, die tesourier, die prinsipaal en sodanige ander persone deur die beheerliggaam aangewys wat oor die nodige kundigheid van finansiële aangeleenthede beskik en geskik is om as lede van die komitee te dien.

11.2 Die doel van die finansiële komitee is om binne sy vermoë en met inagneming van enige toepaslike regsbepaling :

11.2.1 op eie inisiatief of in opdrag van die beheerliggaam die beheerliggaam gereeld van advies te bedien oor enige aangeleentheid wat finansiële implikasies vir die skool het;

11.2.2 Behoudens die toepaslike bepalings van artikel 14, gepaste riglyne en prosedures vir die skool se finansiële administrasie te ontwikkel en te verseker dat sodanige riglyne deurgaans nagekom word; en

11.2.3 te verseker dat al die verpligtinge van die skool en alle voorskrifte wat op die skool van toepassing is met betrekking tot die hou van finansiële rekords en state, die aanstelling van 'n rekenmeester of ouditeur, die ouditering van finansiële rekords en state, die verskaffing van inligting aan enige ouer, personeellid van die skool of departementele amptenaar wat daartoe gemagtig is oor die skool se finansiële aangeleenthede, die heffing van skoolgeld, die vrystelling van ouers van skoolgeld, die insameling van fondse namens die skool, die bestuur en gebruik van die skoolfonds en enige ander finansiële bates van die skool, die opstel van 'n begroting en enige soortgelyke of ooreenstemming met aanvaarde rekenkundige praktyk nagekom word; en

11.2.4 strategieë te ontwikkel waardeur die inkomste van die skool verhoog kan word en alle bestaande bates van die skool maksimaal benut kan word.

11.3 Die finansiële prosedures deur die finansiële komitee, behoudens die toepaslike bepalings van artikel 14 neergelê, moet onder meer daarvoor voorsiening maak --

11.3.1 dat minstens drie en hoogstens vier lede van die beheerliggaam, waarvan verkieslik een lid die prinsipaal moet wees en twee verdere lede wat daartoe gemagtig is, die bevoegdheid het om tjeks, aftrekorders en soortgelyke finansiële instrumente namens die skool te teken en dat elke tjek, aftrekorder en soortgelyke finansiële instrument deur ten minste twee van die vier persone onderteken moet word.

11.3.2 dat tenderprosedures opgestel word vir en nagekom word by die verskaffing van goedere of dienste aan die skool ingevolge 'n kontrak waar die waarde van die teenprestasie deur die skool meer is as die redelike bedrag wat van tyd tot tyd vir hierdie doel deur die beheerliggaam goedgekeur word.

11.3.3 dat skriftelike kontrakte namens die skool deur ten minste twee lede van die beheerliggaam waarvan een ook 'n lid van die finansiële komitee is, onderteken moet word, en

11.3.4 dat die kontant van die skool op die veiligste manier moontlik hanteer word.

11.3.5 dat daar 'n finansiële beleid in 'n skool moet wees, waarin onder meer bepaal word dat geld in 'n bankrekening inbetaal word. (Sien bylae A : Finansiële beleid)

11.4 Tensy daar goeie redes is om van hierdie beginsel af te wyk, of tensy die uitvoerende komitee magtiging daartoe verleen het, dien geen aangeleentheid met finansiële implikasies vir die skool voor die beheerliggaam nie tensy dit reeds deur die finansiële komitee oorweeg is en die advies of verslag van die finansiële komitee daaroor terselfdertyd vir oorweging beskikbaar gemaak word nie.

AFDELING I : WYSIGING VAN DIE GRONDWET

12.1 Indien dit nodig of wenslik is om hierdie grondwet te wysig, word 'n voorstel tot wysiging na goedkeuring daarvan deur die uitvoerende komitee aan die beheerlig-gaam voorgelë. Die uitvoerende komitee moet redelike stappe doen om te verseker dat enige beoogde wysiging van die grondwet deur hom aanbeveel regtens aanvaarbaar sal wees.

12.2 Kennis van 'n vergadering van die beheerliggaam ter oorweging van 'n wysiging van die grondwet moet ten minste twee (2) kalendermaande voor die vergadering gegee word en vergesel word van sodanige redelike besonderhede en motivering as wat in die omstandighede nodig mag wees.

12.3 Enige wysiging van die grondwet moet goedgekeur word deur ten minste twee derdes van al die stemgeregtigde lede van die beheerliggaam tydens 'n vergadering waarop die wysiging van die grondwet oorweeg word.

12.4 Indien by 'n vergadering bedoel in artikel 12.3 minder as twee derdes van die lede aanwesig is, word 'n verdere vergadering belê uitsluitlik vir die doel om die voorgestelde wysiging te oorweeg ten minste twee (2) weke na die eerste vergadering. Indien by so 'n vergadering daar nie twee derdes van die lede aanwesig is nie, kan die voorgestelde wysiging deurgevoer word indien twee derdes van die aanwesige lede ten gunste daarvan stem.

12.5 Die goedkeuring van enige wysiging van die grondwet moet die uitvoerende komitee dit so gou as moontlik aan die departementshoof voorlê.

AFDELING J : PROSEDURE BY DIE OPLOSSING VAN SEKERE GESKILLE

13.1 Indien daar 'n geskil by die skool ontstaan betreffende die onderskeie gebiede van bevoegdheid of werksaamhede wat betref die beheer van die skool deur die beheerliggaam en die professionele bestuur van die skool deur die prinsipaal onder die gesag van die departementshoof, word die geskil, tensy daar 'n dwingende regsbepaling is waarvolgens die geskil anders hanteer moet word, vir mediasie, en indien dit misluk, vir arbitrasie, voorgelê soos in hierdie artikel beskryf.

13.2 Tensy die partye by die geskil in artikel 13.1 bedoel anders ooreenkom, word elke geskil wat die onderwerp van mediasie of arbitrasie kan wees, vir mediasie en, indien nodig arbitrasie, voorgelê aan 'n onpartydige en kundige komitee of enige ander kundige persoon of liggaam.

13.3 Indien mediasie nie binne 'n redelike tyd 'n oplossing vir die geskil bied nie, tree die komitee as arbiter op. Tensy anders ooreenkom is die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995) mutatis mutandis van toepassing ten aansien van die prosedure by mediasie en arbitrasie in hierdie artikel bedoel.

13.4 Waar die komitee as arbiter 'n beslissing maak, is sodanige beslissing maak, is sodanige beslissing finaal en bindend op al die partye tot die arbitrasie.

AFDELING K : UITVAARDIGING VAN REËLS EN BELEID

14.1 Die beheerliggaam kan behoudens enige regsbepaling en die grondwet na goeddunke reëls maak of beleid bepaal, na gelang die geval, ten opsigte van enige aangeleentheid waaroor hy reëls kan of moet maak of beleid kan of moet uitvaardig, of enige aangeleentheid betreffende sy funksionering of die funksionering van enige komitee van die beheerliggaam, of die wyse waarop enige ampsdraer of gemagtigde van die beheerliggaam sy werksaamhede verrig.

14.2 Sonder om die algemeenheid van artikel 14.1 te beperk, moet die beheerliggaam, indien hy dit nog nie gedoen het nie, so gou as redelikerwys moontlik en met behoorlike inagneming van enige toepaslike regsbepaling, huishoudelike reëls neerlê of beleid bepaal (en indien nodig bestaande reëls of beleid wysig) wat oor die volgende onderwerpe handel

14.2.1 Die prosedure en verwante kwessies binne die jurisdiksie van die beheerliggaam betreffende die aanbeveling van die aanstelling van enige personeel by die skool. Die beheerliggaam het die bevoegdheid om addisioneel tot die departementeel goedgekeurde diensstaat vir gesubsieërde poste, verdere nie-gesubsidieërde poste by ‘n skool in te stel. Die beheerliggaam kan ook van tyd tot tyd beginsels neerlê oor, onder andere :
∙ die finansiële uitgawes wat met die instelling van sodanige poste gepard gaan;
∙ die vergoedingspakket, met inagneming van die ooreenstemmende gesubsieërde poste en die kwalifikasies en pligstaat van die peroneellid;
∙ die indiensneming van die personeel buite die goedgekeurde diensstaat, sal geskeid ooreenkomstig ‘n indiensnemingskontrak.

14.2.2 riglyne, tariewe en formaliteite by die terugbetaling van noodsaaklike onkostes van lede van die beheerliggaam aangegaan in die uitvoering van hul pligte.

14.2.3 beginsels ten aansien van die hou en voorbereiding van die skool se finansiële rekords en state en ouditering van finansiële state. Die Beheerliggaam moet ooreenkomstig die voorskrifte deur die departement uitgereik :
* aantekeninge hou van die geld deur die skool ontvang of bestee en van bates, laste en finansiële transaksies van die skool;
* so gou oontlik maar hoogstens 3 (drie) maande na die einde van elke boekjaar, finansiële jaarstate opstel wat , met gepaste besonderhede gelde ontvang en uitgawes aangegaan deur die skool, bates en laste aan die einde van die betrokke boekjaar, aantoon;
* die aantekeninge en finansiële jaarstate onafhanklik laat ouditeer;en
* die geouditeerde finansiële jaarstate binne 6 (ses) maande na die einde van elke boekjaar aan die Adjunk Direkteur-Generaal voorlê.
Die Beheerliggaam moet reëls neerlê oor die beskikbaarstelling van die geouditeerde finansiële jaarstate aan die ouers.

14.2.4 die prosedure waarvolgens die begroting van die skool. die heffing van skoolgeld en die riglyn vir vrystelling van skoolgeld van sekere ouers deur die ouers goedgekeur kan word. Dit kan gedoen word volgens die glyskaal soos voorgeskryf deur die Skolewet.

14.2.5 algemene finansiële en rekenkundige praktyk by die skool, die bestuur en gebruik van die skoolfonds, die banksake van die skool, die ondertekening van tjeks en soortgelyke finansiële dokumentasie, enige ander maatreëls wat nodig mag wees om te verseker dat elke betaling uit die skoolfonds regmatig geskied.

14.2.6 die insameling van geld of enige produk of diens namens die skool.

14.2.7 beginsels by die toelating van enigiemand om by die skool sake te doen of om enigiets op die eiendom wat die skool okkupeer te verkoop of te lewer of om inligting oor enige produk of diens daar te versprei.

14.2.8 die uitneem van versekering in gevalle waar die skool regtens aanspreek-lik gehou kan word vir die betaling van skadevergoeding aan enige persoon.

14.2.9 beginsels, prosedure en tariewe, indien van toepassing, by die beskik-baarstelling van enige skoolbates of persele of geboue deur die skool geokkupeer vir gebruik deur enige persoon, instansie of groep anders as in die normale werksaamhede van die skool self .

14.2.10 die beveiliging, instandhouding en versekering van enige bates van die skool of enige perseel of onroerende eiendom wat die skool okkupeer of gebruik, insluitend die beheer van toegang tot sodanige perseel of onroerende eiendom met spesifieke inagneming van die Wet op Beheer van Toegang tot Openbare Persele en Voertuie, 1985 (Wet 53 van 1985)

14.2.11 wyses waarop die skool in die algemeen koste-effektief bestuur kan word;

14.2.12 beginsels en prosedure by die verkryging van tenders vir die lewering van enige goedere of dienste aan die skool.

14.2.13 wyse waarop ouers, leerders, opvoeders en ander personeel van die skool aangemoedig kan word om vrywillig dienste aan die skool te lewer;

14.2.14 beginsels en prosedure by die ontwikkeling van die missie van die skool en die ontwikkelingspan van die skool;

14.2.15 beginsels en prosedure by die opstelling en wysiging van 'n gedragskode vir leerders. Sien voorbeeld van gedragskode Bylae

14.2.16 beginsels en prosedure by die opstelling en wysiging van skoolreëls;

14.2.17 beginsels en prosedure by ontwikkeling van kodes van regte vir alle sektore by die skool.

14.2.18 beginsels en prosedure by die hantering en ondersoek, indien van toepassing, van enige klagtes, griewe of dispute by die skool of enige dissiplinêre aangeleentheid betreffende leerders of iemand in diens van die beheerliggaam (insluitend toelaatbare en toepaslike tugmaatreëls).

14.2.19 beginsels en prosedure by die formulering en toepassing van die skool se toelatingsbeleid, taalbeleid, sy godsdiensbeleid en die eerbiediging van godsdiens by die skool. (Sien Bylae B : Taalbeleid en Bylae C : Toelatingsbeleid Bylae D : Godsdiensbeleid))

14.2.20 'n basiese gedragskode vir die lede van die beheerliggaam;

14.2.21 beginsels en prosedure by die vasstelling van die tye van die skooldag.

14.2.22 die doel van en alle prosedures en verwante kwessies by die hou van statutêr verpligte of ander vergaderings met ouers, met leerders en met ander belanghebbendes en die beskikbaarstelling van 'n verslag aan enige van die vermelde persone;

14.2.23 beginsels en reëls betreffende die buitemuurse kurrikulum van die skool insluitende die deelname aan sodanige kurrikulum en die keuse van vakopsies ingevolge die provinsiale kurrikulumbeleid;

14.2.24 beginsels en reëls ten aansien van die bestuur en bedryf van enige koshuis van die skool;

14.2.25 die werksaamhede van enige komitee waarvan die werksaamhede nie uitdruklik in die grondwet uitgespel word nie.

14.2.26 optrede teen enige lid van die beheerliggaam wat teenstrydig handel met 'n bepaling van die grondwet of 'n maatreël, beleid of besluit daarkragtens afgekondig;

14.2.27 wyses waarop die prinsipaal en ander personeel van die skool ondersteun kan word in die verrigting van hul professionele werksaamhede.

14.2.28 beginsels en prosedure by die openbaarmaking al dan nie van inligting ten aansien van die skool, 'n leerder of personeellid by die skool, of enige optrede of besluit deur die beheerliggaam, met inagneming van die regte wat daarop van toepassing is;

14.2.29 die beskikbaarstelling van notules van vergaderings van die beheerliggaam of vir insae deur die departementele hoof;

14.2.30 algemene beginsels en prosedure oor skakeling met die departementshoof, enige ander belanghebbende of die media oor aangeleenthede wat op die skool betrekking het.

14.2.31 Die beheerliggaam moet van tyd tot tyd reëls neerlê ten opsigte van die belangrikste veiligheidsmaatreëls by die skool. (Sien bylae E: Veiligheidsbeleid)


AFDELING L : EFFEK VAN NIE-WESENLIKE TEGNIESE GEBREKE

15. Behoudens enige toepaslike regsbepaling is geen besluit of handeling van die beheerliggaam, of van enige van sy ampsdraers of 'n komitee nietig bloot weens die nie-nakoming van 'n formaliteit of tegniese voorskrif deur of ingevolge die grondwet vereis indien sodanige nie nakoming nie wesentlik van aard is nie en die handeling of besluit ter goeder trou plaasgevind het.


16. Die Beheerliggaam verwag van die skoolhoof om die beleid en organisasie waarvolgens die professionele aangeleenthede van die skool soos leer, onderrig, leerontwikkeling en personeelontwikkeling plaasvind, skriftelik uiteen te sit. Nieteenstaande die Beheerliggaam hom nie met die professionele sake bemoei nie, kan hy verwag dat die professionele sake op 'n geordende wyse binne die Skolewet en die grondwet van die Beheerliggaam sal voortgaan.

AANGEPAS EN AANVAAR DEUR DIE BESTUUURSLIGGAAM VAN LAERSKOOL PROTEAPARK OP HEDE DIE 9 DE DAG VAN Junie 2009.






VOORSITTER SEKRETARIS


GETUIES GETUIES

1. _________________________ 1. _________________________

2. _________________________ 2. _________________________




C / My files /grondwet.beh
INHOUDSOPGAWE
GRONDWET : BEHEERLIGGAAM



Aanhef .............................................................................................................................p.1
Woordomskrywing .................................................................................................................p.2
Afdeling A : Oogmerke en doelstellings ..............................................................................p.2
Afdeling B : Sekere werksaamhede, bevoegdhede en pligte ...........................................p.3
Afdeling C : Verteenwoordigingsbevoegdheid en regsaanspreeklikheid ...............................p.4
Afdeling D : Samestelling, ampsdraers en ampstermyn .......................................................p.5
Afdeling E : Vergaderings van die beheerliggaam ...................................................................p.5
Afdeling F : Komitees van die beheerliggaam .....................................................................p.6
Afdeling G : Die uitvoerende komitee ................................................................................p.7
Afdeling H: Die finansiëlekomitee en sekere finansiële prosedures .............................................p.8
Afdeling I : Wysiging van die grondwet ................................................................................p.9
Afdeling J : Prosedure by die oplossing van sekere geskille ............................................p.9
Afdeling K : Uitvaardiging van reëls en beleid ....................................................................p.10
Afdeling L : Effek van nie-wesenlike en tegniese gebreke ......................................................p.12

LAERSKOOL PROTEAPARK








BEHEERLIGGAAM





GRONDWET
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za