Aansoek vir advertensie spasie
Godsdiensbeleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: GODSDIENSBELEID

1. INLEIDING
1.1 Die visie van ons skool bepaal dat Laerskool Proteapark ‘n skool met ‘n Christelike karakter is en die missie is o.a om die leerders te begelei sodat hulle geestelik opgewasse sal wees om die eise van die samelewing suksesvol te hanteer.
1.2 Die Bybel, wat die riglyne daarstel, moet dus voortdurend deur die opvoeders aan die leerders oorgedra en toeganklik gemaak word.
1.3 Die Beheerliggaam van die skool beskou godsdiens as uiters belangrik in die kulturele onderbou, die morele regenerasie en in die uitbou van waardes in die raamwerk van die skool, die gemeenskap en die land.
1.4 Morele waardes:
Die skool is ‘n Christelike instelling en sal voldoen aan die morele norme en waardes wat deur die Bybel as die Woord van God weerspieël word. Die morele ontwikkeling van die leerders sal ook op hierdie waardes en standaarde gebaseer word. Alle onderrig, leer en skoolbestuur sal op die positiewe waardes gebaseer word wat in die Bybel geskryf is.

2. VERWYSING VAN DIE GRONDWET VAN SUID-AFRIKA
In ons skool word godsdiens “beoefen” binne die ruimte wat deur die Grondwet van Suid-Afrika (Deel 15, veral dele 1,2 oor godsdiensvryheid) moontlik gemaak word. Volgens die beginsels van die grondwet sal godsdiens, ook nie in ons skool, enigsins gebruik word as ‘n manier van diskriminasie nie.

3. TOEPASSING VAN DIE BELEID
In die lig van die wetgewing oor godsdiens in die onderwys (wet 27 van 1996) is die volgende sake vir die Beheerliggaam aan die orde:

3.1 GODSDIENSTIGE OPVOEDING
Hierdie is ‘n kurrikulêre aangeleentheid wat deur opgeleide opvoedkundiges tydens die formele skooltye hanteer word, volgens die bepalings van die Onderwysdepartement.

3.2 GODSDIENSTIGE INSTRUKSIE
3.2.1 Godsdienstige instruksie, as die oordra van inligting oor ‘n spesifieke geloof met die oog om persone die geloof te laat navolg, word deur die Beheerliggaam beskou as die primêre verantwoordelikheid van die huisgesin en die betrokke geloofsgemeenskap. Dit is nie primêr die opdrag van die skool as opvoedkundige instelling om ‘n spesifieke geloof uit te bou en volgelinge vir die geloof te werf nie. Om die rede is godsdienstige instruksie nie deel van die skool se formele skoolprogram nie.

3.2.2 Die Beheerliggaam verstaan egter wel dat die staatskoerant die skool aanmoedig om wel die geleentheid vir godsdienstige instruksie te skep ----- sonder dat die geleenthede met die opvoedingsproses inmeng. Sulke geleenthede word ook as vrywillig beskou. As uitvoering hiervan kan die Beheerliggaam godsdienstige leiers van die gemeenskap die geleentheid gee om sodanige instruksie te hanteer.

3.2.3 Die respek en verstaan van ander godsdienste word in ‘n baie kort module aan leerders voorgehou. Die spesifieke godsdiens ter sprake is die “Christelike godsdiens” en dit word beskou as die kern van Laerskool Proteapark se opvoedingsleer.

3.3 GODSDIENSBEOEFENING
3.3.1 Binne die ruimte van die Grondwet en die inligting in die Staatskoerant van 12 September 2003, mag die Beheerliggaam die fasiliteite van die skool beskikbaar stel vir godsdiensbeoefening. Dit kan op die volgende maniere geskied:

3.3.1.1 Vrywillige, publieke geleenthede waar daar vir die doel van godsdiensbeoefening van die skool se fasiliteite gebruik gemaak word.

3.3.1.2 Vrywillige geleenthede (in skooltyd) deur die skoolgemeenskap (leerders en opvoeders). Sodanige godsdiensoefening sal verteenwoordigend wees van die samestelling van die godsdienstige affiliasie van die skoolgemeenskap. Die godsdienstige affiliasie van die skoolgemeenskap sal voortdurend op datum gehou word om te verseker dat billikheid in die verband geskied. Leerders en opvoeders wat nie die geloofsoortuiging van die meerderheid deel nie, sal verskoon word van die geleentheid en elders geakkommodeer word.

3.3.1.3 Vrywillige geleenthede tydens pouses en ander “breektye” in die skool.

3.3.1.4 Godsdienstige onderrig vorm nie deel van die sillabus nie, maar geleenthede sal geskep word vir godsdienstige observasies in die vorm van opening van die skool, uitgenooide sprekers en besprekings groepe.

3.3.1.5 Die beoefening van godsdiens kan insluit:
1. Die onderrig van godsdiens aan die begin van elke dag;
2. Die opening van die skool d.m.v. Skriflesing en gebed.
3. Die sing van gewyde liedere;
4. Die afsluiting van die skool se aktiwiteite d.m.v. Skriflesing en gebed;
5. Die opening van buite-kurrikulêre byeenkomste met Skriflesing en gebed;.
6. Die nooi van predikante om binne skoolverband die leerders toe te spreek oor godsdienstige aangeleenthede;

L.W. Bywoning van bogenoemde items sal op ‘n vrywillige basis gedoen word en enige leerder sal verskoon word indien hy / sy dit nie wil bywoon nie op voorwaarde dat die ouers die versoek skriftelik aan die hoof rig.
Geen leerstellinge of dogma wat eie is aan ‘n bepaalde denominasie mag gedurende skoolure by Laerskool Proteapark bevorder word nie
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za