Aansoek vir advertensie spasie
Gedragskode: ouers

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: GEDRAGSKODE: OUERS

INLEIDING

Die ouer bly die primêre opvoeder van die kind en is dus primêr verantwoordelik vir die opvoeding van die kind. Hierdie primêre verantwoordelikheid mag nie sonder meer in die hande van die skool gelaat word nie. Die skool, daarenteen, behartig veral die deel van die opvoedingstaak, wat weens die gespesialiseerde aard daarvan, nie geredelik deur die ouers uitgevoer kan word nie. Die skool en die gesin het dus elkeen sy eie taak om te vervul en die een kan sonder meer die taak van die ander een suksesvol oorneem nie. Tog is hulle ten nouste by mekaar betrokke en word hulle onvervreembare bondgenote in die opvoeding van die kinders.

Ouerbetrokkenheid by die skool word bepaal deur die kwaliteit van die ouer se betrokkenheid by sy eie kind. Ouerbetrokkenheid begin in die gesin en die ouer wat nie by sy kind betrokke is nie sal moeilik tot betrokkenheid by die skool gemotiveer word. Volwasse ouerbetrokkenheid veronderstel verstandige besluite en duidelike riglyne aan die kinders oor wat mag en nie mag nie; oor werkshouding, getrouheid, entoesiasme, pligsbesef, verantwoordelikheid, vryetydsbesteding, optrede teenoor opvoeders en maats, vesting van Christelike lewenswaardes, aanleer van maniere en etiket, behoorlikheid en die opneem van ‘n eie lewenshouding.

Dit is belangrik dat ‘n gunstige lewensruimte by die huis en skool moet bestaan vir die kinders. Dit berus daarop dat daar ‘n gees van vrymoedigheid en toeganklikheid vir kinders en ouers sal bestaan by die skool. Dit word gedra deur ‘n gees dat mense vir mekaar omgee en medeverantwoordelikheid vir ‘n probleem wil neem. Om doelgerig te werk om ‘n gelukkige skoolgemeenskap tot stand te bring sal die ouers en opvoeders moet voorloop en sorg dat die leerders innerlik geborgenheid ervaar om so hulle beste te lewer. Die skool en ouerhuis moet hande vat om die ideale atmosfeer daar te stel vir die kinders. Die kinders moet ook geleer word dat die gunstige klimaat by die huis en skool nie misbruik mag word vir onaanvaarbare gedragspraktyke nie. Wanneer ‘n kind op onaanvaarbare wyse optree behoort die skool die vrymoedigheid te neem om met die ouers in verbinding te tree om die probleem op te los.

Om bg. te bereik behoort die ouers die volgende te doen :

2. VENNOOTSKAP
· Ouers moet onderneem om ‘n prominente rol te speel as deel van die opvoedingspan van die skool.
· Ouers moet die etos van die skool ondersteun en so optree dat hulle die waardes van die skool reflekteer.
· Die ouers behoort bereidwillig te wees om op ondersteuningsgroepe te dien wat diens lewer by die skool.
· Ouers behoort die openbare beeld van die skool te bevorder en ’n positiewe boodskap uit te dra na potensiële kliënte/ouers van die skool.
· Ouers behoort hartlik saam te werk met die opvoeder tot voordeel van die leerder.
· Ouers behoort die opvoeders te erken as plaasvervangende ouers en alles in hulle vermoë doen om die opvoeder se gesag te ondersteun en om die kind se vertroue in die opvoeder te verstewig en die verhouding tussen die skool en die ouerhuis te bevestig.
· Die ouers en die opvoeders tree in vennootskap op en onderneem om die waardes van die ouerhuise en die skool te bevestig.
· Ouers behoort die skool te ondersteun in die skool se pogings om opvoedingsgeleenthede vir die leerders te skep.
· Ouers behoort die skool so te konsidereer in hulle besluite en beplanning dat daar nie by die kind die persepsie ontstaan dat die skool maar ’n baie lae aansien by die ouerhuis geniet nie.

3. BESTUURSAKE
· Die Beheerliggaam as verteenwoordigers van die ouers moet sorg dat goeie kommunikasie tussen die skool en die ouerhuis bestaan sodat die ouers hulle insette in die bestuur van die skool kan lewer.
· Ouers behoort hulle beskikbaar te stel vir verkiesing op rade of komitees van die skool.
· Ouers moet beskikbaar wees om op die skool se Beheerliggaam en die Beheerliggaamkomitees gekoöpteer te word.
· Ouers moet bereid wees om hulle neer te lê by vergaderingbesluite waar die meerderheidsbesluit geld.
· Ouers behoort die hoof te ondersteun in sy/haar besluite en bestuur van die skool.
· Ouers behoort die skool se ouervergaderings by te woon.
· Ouers moet onderneem om nie onnodig met die skool se sake in te meng nie.

3. AKADEMIES
· Ouers behoort oueraande gereeld by te woon om te verneem oor die vordering en gedrag van hulle kinders.
· Die ouer behoort met die opvoeder in gesprek te tree as daar ’n probleem met die leerder se vordering op skool ontstaan.
· Ouers behoort inisiatief te neem om die opvoeders te ondersteun met huiswerkopdragte wat die leerders moet voltooi.
· Ouers behoort positief te reageer as daar ’n versoek van die opvoeder kom in projekte wat in die klas aangepak en tuis voltooi moet word.
· Ouers moet bereid wees om die waarheid oor hulle kinders te aanvaar tydens oueraande wanneer daar op ’n eerlike wyse oor die kind se vordering en gedrag gepraat word.
· Ouers moet toesien dat hulle kinders leer vir toetse en assesseringsaangeleenthede.
· Ouers behoort gereeld na hulle kinders se skrifte te kyk en handtekeninge aan te bring as daar so ’n versoek gerig word.
· Ouers behoort hulle kinders se toetse te teken as die skool so versoek.
· Ouers moet hulle kinders ondersteun om op skool te vorder.
· Ouers behoort saam met die skool te werk as die skool sekere aanbevelings doen in verband met die kind se skolastiese vordering.
· Ouers behoort hulle kinders moreel en finansieël te ondersteun as die kinders sekere projekte moet inlewer soos take of ander leeareaopdragte om goed te versamel en saam bring skool toe

4. DISSIPLINE
· Ouers behoort hulle neer te lê by die skool se dissiplinêre kode en toe te sien dat hulle kinders die skoolreëls gehoorsaam.
· Ouers behoort toe te sien dat hulle kinders in die regte skooldrag skool toe kom.

5. FINANSIëEL
· Ouers is aanspreeklik om die voorgeskrewe skoolgelde betyds te betaal.
· Ouers is aanspreeklik daarvoor om die hoof betyds in te lig as daar finansiële probleme binne die gesin ontstaan en die ouers nie die voorgeskrewe skoolgeld kan betaal nie.
· Ouers moet ook bereid wees om enige kampfooie, toergelde, busgelde vooruit te betaal aan die skool indien hulle kinders sou deelneem aan sodanige aktiwiteite

6. BUITEMUURS
· Ouers behoort entoesiasties te wees oor die skool se buitemuurse program.
· Ouers behoort hulp aan te bied waar nodig.
· Ouers moet hulle kinders betyds afhaal by die skoolwanneer na-ure aktiwiteite plaasvind soos uitstappies of sportgeleenthede.
· Ouers moet bereid wees om ’n vrywaringsvorm te onderteken voordat die leerder aan enige aktiwiteite by die skool mag deelneem.
· Ouers behoort dit vir hulle kinders moontlik te maak om aan die skool se buitemuurse program deel te neem.
· Dit bly die ouers se verantwoordelikheid om sy/haar kind by die skool af te haal na skoolsluiting omdat die skool nie verantwoordelikheid kan neem vir leerders na ure nie.

7. SKOOLBYWONING

· Ouers moet toesien dat hulle kinders gereeld die skool bywoon.
· Ouers behoort vooraf toestemming te verkry as hyulle kind afwesig gaan wees van die skool.
· Ouers moet ook ’n afwesigheidsbrief aan te bied as ’n leerder weens siekte afwesig was.
· Ouers moet verseker dat hulle kinders betyds by die skool opdaag voordat die skooldag amptelik ’n aanvang neem.

8. MEDIES
· Ouers behoort hulle kinders medies te laat behandel as die skool dit versoek soos in die geval van kopluise.
· Ouers moet bereid wees om hulle kinders te kom afhaal by die skool wanneer die kinders by die skool seergekry het en mediese versorging benodig.
· Ouers behoort nie hulle kinders skool toe te stuur as hulle siek is nie.
· Ouers moet die nodige medikasie aan die skool voorsien indien hulle kinders allergies is vir sekere dinge wat die kinders mag aantas by die skool soos bv. bysteke.
· Ouers onderneem om ’n openbare amptenaar van die skool aan te stel as die gemagtigde verteenwoordiger van die skool wat in bevel mag wees tydens enige voorval waarin bogemelde kind beseer mag word om namens en in die ouers se pel en tot enige van die ondergemelde toe te stem indien die ouers nie beskikbaar is nie:
- chirurgiese of mediese prosedure en\of toediening van narkose wat nodig mag wees as gevolg van enige besering aan die persoon van gemelde kind.
- Die aangaan van mediese koste in verband met bogemelde.
· Ouers onderneem om enige mediese koste op aanvraag te betaal en onderneem om enige van die skool se openbare amptenare en/of enige van sy verteenwoordigers te vergoed vir enige koste wat in verband met mediese uitgawes aangegaan mag word.
· Ouers bevestig da t mediese rekeninge direk aan hulle gestuur moet word vir vereffening deur die ouer.
9. KOMMUNIKASIE
· Ouers moet bereid wees om inligtingsvraelyste in te vul vir die skool se amptelike rekords.
· Ouers behoort die omsendbriewe te lees en daarop te reageer as daar skeurbriefies betrokke is.
· Ouers behoort eers die skoolhooof te gaan spreek as hulle ongelukkig is oor iets by die skool en behoort nie by die eerste geleentheid na die media te hardloop nie. Berigte in die media kan die skool se openbare beeld onnodig skaad, terwyl die probleem maklik in die kantoor opgelos kon word

10. PROJEKTE/FUNKSIES
· Ouers behoort funksies, gesellighede en ander aktiwiteite van die skool te ondersteun.
· Ouers behoort die skool te ondersteun tydens fondsinsamelingsprojekte omdat die skool sulke geleenthede reël om fondse in te samel tot voordeel van die leerders van die skool,
· Ouers behoort bereid te wees om tydens funksies te kom help om van die funksie ’n sukses te maak.

11. SKOOLEIENDOM
· Ouers behoort hulle kinders van stewige tasse te voorsien sodat die skool se handboeke nie onnodig beskadig word nie.
· Ouers behoort hulle kinders van materiaal te voorsien om hulle boeke oor te trek.

12. VEILIGHEID VAN LEERDERS
· Ouers behoort die skool te ondersteun as die skool sekere veiligheidsmaatreëls instel om die kinders se veiligheid te verseker.
· Ouers moet bereid wees om die skool te help beveilig in die geval van natuurrampe of noodsituasies.
Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za