LAERSKOOL PROTEAPARK: BELEID INSAKE DIE BEPERKING VAN ROOK EN DIE GEBRUIK VAN TABAKPRODUKTE IN DIE SKOOL.
1. VOORWOORD
Nademaal die beheerliggaam van Laerskool Proteapark, ‘n openbare skool ingevolge die toepaslike bepalings van artikel 21 van die SA Skolewet(1998) gemagtig is om oor die fisiese fasiliteite van die skool beheer uit te oefen, en nademaal die Wet op die Beheer van Tabakprodukte (1999) vereis dat beleid in verband met die beperking van rook en die gebruik van tabakprodukte in openbare plekke waarvan hierdie skool een is, verklaar moet word, verklaar die beheerliggaam van Laerskool Proteapark sodanige beleid.
2. MOTIVERING VIR DIE BELEID
Die beheerliggaam van Laerskool Proteapark erken dat mediese bewyse toon dat rook nadelig vir die gesondheid van sowel aktiewe as passiewe rokers is. Om sigarette, sigare, pype ens. te rook is irriterend vir baie nie-rokers, en kan verskillende tabakverwante siektes en selfs die dood tot gevolg hê.
3. DOELWIT VAN DIE BELEID
Die doel met hierdie beleid is om ‘n aangename en gesonde werksomgewing te vestig, met inagneming van die behoeftes, regte en gesondheid van beide rokers en nie-rokers.
4. BREË BELEIDSVERKLARING
Laerskool Proteapark
4.1 erken dat werknemers van die staat en van die skool, leerders en besoekers die reg het om in ‘n aangename omgewing in die skoonste lug moontlik te werk, studeer en sake te doen.
4.2 verwag dat alle werknemers, leerders, en besoekers die regulasie ten opsigte van rook en die gebruik van tabakprodukte by die skool sal nakom.
4.3 verbind sigself daartoe om alle werknemers hetsy van die staat of van die skool, en waar van toepassing aan te moedig om op te hou rook deur middel van inligtingswerkswinkels, leerdersverwysing na kliniek en opvoedkundige programme beskikbaar.
5. GEBIEDE WAAR ROOK VERBODE IS
5.1 Al die geboue van Laerskool Proteapark word as rookvrye geboue beskou, met die uitsondering van gebiede wat spesifiek as gebiede geïdentifiseer is waar rook toegelaat word.
5.2 Enige gebied waar daar ‘n brandgevaar bestaan, byvoorbeeld in brandstofstore, laboratoriums en in die omgewing van gasstore.
5.3 Algemene gebiede met inbegrip van ingangsportale, gange, trappe, stoepe, kleedkamers, koshuiskamers, die personeelkamer, klaskamers en enige area waar voedsel voorberei, bedien of ingeneem word.
5.4 Enige ander geïdentifiseerde gebied wat nie spesifiek in hierdie beleidsdokument gelys word nie.
5.5 In of op voertuie van die skool sowel as voertuie wat gehuur word vir/aan die skool.
6. AREAS WAAR WEL GEROOK MAG WORD.
6.1 Rook deur leerders word onder geen omstandighede op enige deel van die skool se terrein toegelaat nie.
6.2 Voorsiening sal vir rookgebiede vir personeellede gemaak word indien dit ekonomies haalbaar is. Werknemers wat in kantore werk wat hulle alleen beset, kan skriftelik aansoek aan die beheerliggaam rig dat hulle kantore as rookgebied verklaar kan word, mits dit voldoen aan Artikel 3, van die Wet op die beheer van tabakprodukte (Wet nr 12 van 1999).
6.3 Kennisgewings soos voorgeskryf deur die Wet wat aandui dat rook toelaatbaar is, moet deur ‘n persoon met ‘n privaatkantoor wat as rookgebied goedgekeur is, aangebring word. Sodanige persoon moet egter nie rook wanneer ‘n besoeker of ‘n nie-roker teenwoordig is nie.
7. TOEPASSING VAN DIE BELEID.
Die sukses van die toepassing van die beleid hang af van die bedagsaamheid en samewerking van rokers en nie-rokers. Indien daar konflik tussen rokers en nie-rokers ontstaan, word werknemers aangemoedig om self kompromieë te tref. Indien dit nie slaag nie, moet die saak in ooreenstemming met die grieweprosedure van die skool hanteer word.
8. VERANTWOORDELIKHEID
8.1 Dit is primêr die verantwoordelikheid van die lynbestuur in die skool (Adjunk-hoof/de en Departementshoofde) om te verseker dat die beleid met betrekking tot rook nagekom word. Lynbestuur moet verseker dat -
8.1.1 alle klagtes wat geopper word onmiddellik ondersoek word ten einde regstellende stappe te doen;
8.1.2 persone wat klagtes indien nie geviktimiseer word nie; en
8.1.3 werknemers en leerders by die skool nie die regulasies ten opsigte van rook oortree nie.
8.2 Persone wat weier om die beleidsbepalings van die skool se tugkode na te kom, sal waar van toepassing onderdanig wees aan die en/of die sanksies wat die wet bepaal.
8.3 Besoekers wat weier om die beleid te gehoorsaam sal toegang tot die perseel geweier word.
9. KOMMUNIKASIE
9.1 Afskrifte van hierdie beleidsdokument moet aan alle werknemers by die skool voorsien word.
9.2 ‘n Afskrif van hierdie dokument moet op alle kennisgewingborde van die skool aangebring word, sowel as in koshuise en enige ander kennisgewingborde op eiendom wat die skool beheer.
9.3 Toepaslike kennisgewings soos deur die Wet voorgeskryf moet in alle gebiede waar hierdie beleid van toepassing is, aangebring word.
9.4 Toepaslike in-huis publikasies van die skool moet die beleid op ‘n jaarlikse basis aan die ontvangers daarvan oordra. |