Aansoek vir advertensie spasie
Finansiële beleid

NUUSBRIEWE
TEKEN IN


E-Pos

Wagwoord



REGISTREER
 

LAERSKOOL PROTEAPARK: FINANSIËLE BELEID:

 1. INLEIDING
Die Beheerliggaam van Laerskool Proteapark het besluit dat alle bepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996(hierna “die Skolewet”) en die Provinsiale Wet op Skoolonderwys en alle reëlmatige regulasies daaronder uitgevaardig, eerbiedig sal word en dat uitvoering daaraan gegee sal word.

Hierdie beleid het ten doel om praktiese uitvoering aan die Skolewet te gee en om die hantering van finansies en skooleiendom te orden.

2. DIE FINANSIËLE KOMITEE
2.1 SAMESTELLING :

· Die voorsitter van die finansiële komitee, soos deur die beheerliggaam aangewys, stel jaarliks die FK (finansiële komitee) saam.

· Benewens die voorsitter, bestaan die FK uit die volgende lede:
- die skoolhoof;
- die finansiële beampte(s) van die skool;
- die sekretaris van die Beheerliggaam;
- ‘n Lid van die beheerliggaam, soos deur die beheerliggaam aangewys;
- twee ouers wat nie beheerliggaamlede is nie; en
- een opvoeder.

2.2 OPDRAGTE AAN DIE FINANSIËLE KOMITEE

· Om jaarliks vòòr 30 September ‘n konsep begroting vir die volgende jaar op te stel en aan die Beheerliggaam voor te lê.

· Om begrotings bestuur sodanig toe te pas dat kontrole oor inkomste en uitgawes teenoor die begroting gehou sal word. Die finansiële komitee ontvang magtiging van die Beheerliggaam om aanpassings binne die begroting te doen om noodsaaklike uitgawes te delg. Sodanige aanpassings moet binne die vereistes van die ouervergadering wat die begroting goedgekeur het, hanteer word.

· Om die maksimum bedrag van die kleinkas vas te stel asook die maksimum bedrag waarvoor individuele items uit die kleinkas aangekoop mag word. Die maksimum bedrag van die kleinkas is tans vasgestel op R500.00

· Om fondsinsamelingsprojekte in samewerking met ondersteuners/ouerkomites te oorweeg, goed of af te keur.

· Om kontrole en beheer oor die finansiële sake van die naskoolsentrum uit te oefen en toe te sien dat dit winsgewend bedryf word. Om die ooreenkomste met persone wat dienste lewer, bv. Snoepwinkel, skryfbehoeftewinkel en klerewinkel te kontroleer en te hernieu soos nodig.

· Om minstens twee keer per kwartaal te vergader. Presensie en ‘n notule moet van alle vergaderings gehou word en by die daaropvolgende vergadering van die Beheerliggaam voorgelê word.

· Om behoorlike kontrole oor rekords/ inventarisse van alle roerende en nie-roerende skoolbates te hê.

· Om ‘n behoorlike afskrywingsprosedure van bates daar te stel en verslag daaroor aan die beheerliggaam te doen.

· Om behoorlik rekords te hou van alle roerende en nie-roerende bates van die skool.

· Om jaarliks voor 30 April die finansiële state deur ‘n ouditeur wat deur die beheerliggaam aangewys, is te laat ouditeur, en die ouditverslag daarna aan die Beheerliggaam voor te lê.

3 HANTERINGSPROSEDURE VAN FINANSIES BY DIE SKOOL
3.1 Skoolgeld en ander geld moet gedurende skoolure as volg hanteer word :

· Elke opvoeder ontvang jaarliks ‘n geldboekie waarin rekords gehou word van alle skoolgeld en ander fondse wat deur die leerders by die skool inbetaal word. Indien geld wegraak of uit ‘n klaskamer gesteel word, is die betrokke leerkrag verantwoordelik vir die betaling daarvan.

· Die boekie word daagliks gedurende voogperiode voltooi en saam met die geld na die finansiële kantoor gestuur word voor 10:00. Geen geld mag in die klasse of stoorkamers gebêre word en oorgehou word tot die volgende dag nie. Die opvoeder sal verantwoordelik gehou word vir die verlies van geld wat nie inbetaal is nie.

· Elke inbetaling word onder die korrekte opskrif geplaas. Die finansiële beampte sal dan kwitansies uitreik wat deur die opvoeders aan die leerders uitgedeel sal word. Maak baie seker dat die bedrag wat ontvang word met die bedrag op die kwitansie ooreenstem
- Vir elke bedrag van R10 en meer word ‘n individuele kwitansie uitgereik.
- Vir bedrae minder as R10 word ‘n kwitansie vir die bedrag aan die onderwyser uitgemaak. Die inskrywings in die geldboekie word egter langs elke individuele leerling gemaak.

· ‘n Maandelikse opsomming van geld ontvang moet voorberei word en in ‘n lêer geliasseer word.

· Dié lêer sal gereeld deur die finansiële komitee nagegaan vir kontrole en ook vir die insameling van statistieke.

· Die geld sal gereeld(ten minste 2x per week) gebank word. Ten minste twee persone moet die geld bank toe neem. Die kontant wat in die kluis gehou word mag nie bedrag in die versekeringspolis gedek oorskry nie. Die persoon wat die bankwerk doen asook die bankdag en -tyd moet gereeld afgewissel word.

∙ Die skoolhoof of ‘n ander persoon daartoe aangewys moet ook daarop let dat tjeks nie gerol word nie sodat moontlike bedrog dadelik geïdentifiseer kan word.

∙ Die skoolhoof of sodanige ander persoon soos wat van tyd tot tyd deur die FK vir hierdie doel aangewys word, is daarvoor verantwoordelik om die deposito- en kwitansieboek op ‘n steekproefgrondslag met mekaar te vergelyk en dit te onderteken.

∙ Geen persoon mag ‘n persoonlike of enige ander tjek vir kontant ruil of wissel nie.


3.2 FONDSINSAMELINGS/FUNKSIES

· Die finansiële komitee stel verantwoordelike persone aan om gelde tydens verkopings en ander funksies te hanteer.

∙ Die finansiële komitee moet alle fondsinsamelings goedkeur.

∙ Alle borgvorms wat uitgedeel word vir fondsamelings moet behoorlik aangeteken en moet weer terug ontvang word. Indien ‘n borgvorms verlore is moet die ouer ‘n beëdigde verklaring in die plek daarvan skool toe stuur.

∙ Tydens alle verkopings by die skool met sportdae ens. moet daar van genommerde kaartjies gebruik gemaak word sodat daar op een sentrale punt met die kontant gewerk word. Die finansiële beampte van die skool sal die kaartjies uitreik en kontroleer.

∙ Alle fondse wat ingesamel word moet by die finansiële kantoor inbetaal word waarna laasgenoemde ‘n kwitansie aan die organiseerder uitreik.

∙ Die fondse sal dan deur middel van ‘n rekenaarprogram na die korrekte rekening oorgeplaas word.

∙ Geen uitgawe mag met kontant gedelg word nie. Betalings sal slegs per tjek of internetbetalings geskied.


∙ Indien aankope gemaak moet word, moet die nodige voorgeskrewe dokumentasie (Bestelvorm / LP 22) voltooi en goedgekeur word.

∙ ‘n Afskrif van die kwitansie sal dan saam met ‘n opsomming van die fondsinsameling by die skool in ‘n lêer geliasseer word vir kontrole doeleindes. Die fondsinsameling opsomming moet die volgende inligting bevat :
- Die naam van die fondsinsamelingsprojek
- Die naam van die verantwoordelike persoon of persone
- Datum van fondsinsameling
- Detail opsomming van uitgawes aangegaan (alle uitgawes moet gelys word al is dit 1c)
- Detail opsomming van inkomste ontvang (geld ontvang uit verkope, donasies ens.)
‒ Lp 45 A moet voltooi word vir elke projek (Sien Bylae A)

3.3 DONASIES

· Alle geld geskenk vir watter doel ook al moet by die finansiële kantoor inbetaal word (al is dit 5c). Die skenker sal dan ‘n kwitansie tesame met ‘n bedankingsbrief ontvang.’n Artikel 18A brief wat vir belasting doeleindes ingehandig kan word.

· Die donasie sal dan deur middel van ‘n rekenaarprogram na die korrekte rekening geallokeer word.

· ‘n Afskrif van die kwitansie en ‘n afskrif van die bedankingsbrief moet in ‘n lêer geliasseer word vir kontrole doeleindes.

· Verseker ook dat die skenking ondersteun word deur ‘n formele dokument van die skenker.

· Die lêer sal gereeld deur die finansiële komitee nagegaan word vir kontrole en vir statistiek doeleindes.

3.4 OPVOEDKUNDIGE– EN SPORT TOERE
· Die volgende prosedures moet gevolg word om te verseker dat fondse akkuraat, volledig en verantwoordbaar is :
- ‘n Voorlegging moet via die skoolhoof aan die finansiële komitee voorgehou word. Dit moet in die volgende formaat wees. Die LP 45 en LP 45 A (Bylae A) is in die kantoor beskikbaar :
- Naam van die projek / toer
- Doel van die projek
- Detail van die projek
- Uitgawe begroting
- Inkomste begroting
- Stelsel beskrywing ( finansiële kontroles)
- Verantwoordelike persoon / projekbestuurder
- Befondsing

· Die finansiële komitee oorweeg/ evalueer die projek van uit ‘n finansiële oogpunt en indien nodig aanbevelings maak rakende enige tekortkominge ten opsigte van finansiële kontrole

· Die projekbestuurder sal van die finansiële komitee se besluite/ aanbevelings ingelig word via die skoolhoof.

· Die projekbestuurder moet na afhandeling verslag doen aan die finansiële komitee. Afwykings ( begroot vs werklik) moet verduidelik word.

· Alle kontant te korte moet aan die finansiële komitee rapporteer word.

∙ Die organiseerder sal ‘n debietkaart ontvang vir uitgawes wat nie vooraf d.m.v. internetbetalings gedoen kan word nie. Slegs die bedrag wat benodig word sal in die rekening inbetaal word. Strokies vir alle uitgawes moet aan die finansiële beampte oorhandig word sodra die toer afgehandel is.

4. BEGROTINGSBESTUUR

4.1 Die FK stel jaarliks in oorleg met alle belangegroepe ‘n konsepbegroting op en lê dit voor 30 September aan die beheerliggaam voor. Die beheerliggaam handel daarmee volgens die beheerliggaamgrondwet. Nadat ‘n ouervergadering die begroting goedgekeur het, stel die FK dit ingevolge die voorgeskrewe prosedures in werking.

4.2 Die voorsitters van die beheerliggaamkomitees dien ook as begrotings bestuurders van hulle onderskeie portefeuljes.

4.3 Die skoolhoof wys jaarliks in oorleg met die FK persone aan met die verantwoordelikheid om goedgekeurde begrotingsportefeuljes te bestuur.

4.4 Die voorsitters van die beheerliggaamkomitees bestuur self hulle onderskeie toegewese begrotings.

4.5 Elke begrotingsbestuurder ontvang ‘n afskrif van sy bepaalde begroting waarop hulle noukeurig rekord hou van alle bedrae wat hulle ten opsigte daarvan bestee.

4.6 Indien ‘n begrotingsoorskryding onafwendbaar blyk te wees, moet sodanige begrotingsbestuurder dit vroegtydig by die skoolhoof aanmeld sodat die FK daarmee kan handel.

5. AANKOPE /UITGAWES

5.1 Die hoof/ begrotingsbestuurder moet enige aankope vooraf goedkeur. Die nodige dokumentasie moet voltooi word vir die aanvraag: Lp 22

5.2 Voordat hy/ sy sodanige goedkeuring toestaan, moet die hoof/ begrotingsbestuurder seker maak dat die uitgawe binne die begroting val en of die nodige fondse beskikbaar is

5.3 Vervolgens moet die aankoper ‘n bestelvorm van die finansiële beamptes aanvra en dit voltooi.

5.4 Aankope mag eers ná goedkeuring deur die skoolhoof of sodanige persoon wat die FK vir hierdie doel aangewys het, plaasvind.

5.5 Indien die skool nie ‘n rekening by ‘n betrokke instansie het nie, kan ‘n tjek vir betaaldoeleindes aangevra word.

5.6 Instansies se bankbesonderhede kan ook aangevra word sodat rekeninge elektronies vereffen kan word. Dieselfde magtigingsprosedures geld.

5.7 Bestelvorms moet voor betaling met die faktuur vergelyk word. Elke tjek of elektroniese betaling moet ondersteun word deur ‘n tjek/ uitgawe rekwisisie asook ‘n faktuur. (LP 22 is in die kantoor beskikbaar Bylae B).

5.8 Uitgawes moet daagliks in die kasboek opgeteken word (SASPAC) sodat die uitgawes na die regte rekening geallokeer word.

5.9 Die kleinkas kan ingespan word om dringende uitgawes of klein uitgawes te betaal. “Klein kasboek” moet bygehou word(SASPAC). Die kontant in die kleinkas en uitgawe bewysstukke moet daagliks gebalanseer word. Enige tekorte moet onmiddellik aan die finansiële komitee gerapporteer word.

6. HANTERING VAN TJEKS EN ELEKTRONIESE BETALINGS

6.1 Alle uitgawes en aankope moet deur middel van ‘n tjek of elektroniese betaling betaal word.

6.2 Die skoolhoof se handtekening moet op alle tjeks verskyn.

6.3 Die beheerliggaam wys jaarliks benewens die skoolhoof twee persone as mede-tjekondertekenaars aan.

6.4 Die skoolhoof en nog een van die mede-ondertekenaars (m.a.w.) Minstens twee persone) moet alle tjeks teken.

6.5 Geen kontanttjeks mag uitgeskryf word nie.

6.6 Alle tjeks moet aan ‘n persoon of ‘n instansie uitgemaak word.

6.7 Tjeks moet gekruis en die toonder deurgehaal word.

6.8 Bekragtiging van uitgawes en die uitskryf van tjeks word op ‘n LP22 geverifieer. Daar moet ook vermeld word of daar fondse in die bank is voordat tjeks goedgekeur word.

6.9 Salarisse word elektronies teen die laaste dag van elke maand in persone se bankrekening gedeponeer.

6.10 Met die nodige voorafreëlings kan rekeninge ook elektronies vereffen word. Indien betalings elektronies geskied moet ‘n lys van betalings gedruk word voordat die betalings plaasvind. Die lys moet ondersteun word deur die nodige LP 22 en fakture. Dieselfde prosedure vir goedkeuring geld ook vir elektroniese betalings.

6.11 Die finansiële beampte sleutel alle besonderhede van elektroniese betalings in en die skoolhoof en ander gemagtigde keur dit by wyse van ‘n spesiale rekenaarkode goed.

6.12 Geen blanko tjeks word vooraf geteken nie.

7. REKENKUNDIGE STELSEL

7.1 Die Beheerliggaam bepaal die rekenkundige stelsel wat die skool moet gebruik ooreenkomstig die behoeftes van die skool.

7.2 Die skool gebruik tans SASPAC

8. DIE FINANSIËLE BEAMPTES

8.1 Die skool het drie poste in die finansiële departement van die skool. Die eerste finansiële beampte hanteer die volgende:
∙ Die finansiële beampte implementeer die rekenkundige stelsel wat deur die Beheerliggaam voorgeskryf word.
∙ Sy/ hy hou deeglik rekords van alle inkomste. Maak in geval van tjekbetalings seker dat die betrokke tjek nie vooruitgedateer is nie. Indien wel, word dit in die kantoor bewaar totdat die tjek geldig is.
∙ Sy/ hy reik kwitansies uit vir alle geld wat ontvang word.
∙ Sy/ hy stuur elke maand voor die 25 ste van die betrokke maand ‘n rekening staat aan elke ouer/ voog.
∙ Sy/ hy is verantwoordelik dat die geld veilig bewaar en gereeld gebank word.
∙ Hy/ sy is ook verantwoordelik vir betalings wat met die kaartfasiliteit gemaak word.
∙ Sy/ hy is ook verantwoordelik vir die kontrole van genommerde kaartjies vir die verkopings by die skool.
∙ Sy/ hy maak daagliks ‘n rugsteun van die rekenaarprogram
∙ Sy/ hy hanteer die kleinkas volgens die bedrae deur die finansiële komitee goedgekeur
∙ Sy/ hy hanteer die lone van die terreinwerkers
∙ Sy/ hy bring alles in gereedheid vir die jaarlikse oudit
∙ Sy/ hy rapporteer enige ongerymdhede aan die hoof/ finansiële komitee
∙ Sy/ hy hou ‘n kwitansieboekregister waarin daar aangeteken word watter kwitansieboek aan watter persoon uitgereik word.

8.2 Die tweede finansiële beampte hanteer die volgende:
∙ Die finansiële beampte implementeer die rekenkundige stelsel wat deur die Beheerliggaam voorgeskryf word.
∙ Hy/ sy hanteer die debietorderstelsel
∙ Hy/ sy voorsien weekliks ‘n proefbalans aan die hoof/ finansiële komitee
∙ Hy/ sy berei tjeks voor en hou deeglik rekord van fakture en bewyse van uitgawes.
∙ Hy/ sy kontroleer dat die uitgawes binne die begroting geskied
∙ Hy /sy berei die dokumentasie voor vir die finansiële komiteevergaderings.
∙ Hy/ sy rapporteer enige ongerymdhede en afwykings aan die skoolhoof.
∙ Hy/ sy hanteer die salarisse en alle ander verwante aangeleenthede.

8.3 Die derde finansiële beampte hanteer die volgende:
∙ Hy/ sy hou rekord van alle aansoeke vir subsidie. Hulle moet ‘n naamlys van versoeke aan die finansiële komitee voorlê.
∙ Hy/ sy hou rekords van alle ouers wat aanmanings ontvang en ook van die wat gedagvaar word.
∙ ‘n Lid van die finansiële komitee neem maandeliks die lys van uitstaande debiteure en laat alle debiteure skriftelik weet dat hulle agterstallig is en dat verdere stappe geneem gaan word as daar nie reëlings getref of die skuld vereffen word nie. Ontvangs erkenning van die skrywes moet terug gestuur word skool toe.
∙ Hy/ sy kontroleer ook die rekeninge maandeliks voordat dit aan die ouers gestuur word.

9. BATEREGISTER

9.1 FORMAAT
∙ ‘n Bateregister moet van alle roerende en nie-roerende eiendom van die skool gehou word :

9.2 Die bateregisters moet oor die volgende afdelings beskik:
· Meubels : klasse
· Kantoormeubels en toerusting
· Mediasentrum : literatuur
Apparatuur
Programmatuur
· Rekenaars
· Sporttoerusting . ‘n register vir elke sportsoort.
· Voertuie
· Tuingereedskap
· Handboeke
· Musiek
· Breekware
9.2.1 Alle bateregisters moet kwartaalliks aan die voorsitter van die finansiële komitee beskikbaar gestel word.

9.2.2. Die hoof/ voorsitter kontroleer op ‘n steekproef basis of nuwe aankope in die register opgeneem is.

9.2.3 Elke aktiwiteitsvoog is in samewerking met die buitemuurse bestuurder/ sportbestuurder verantwoordelik vir die byhou van die Bateregister wat onder sy / haar portefeulje ressorteer.

9.3 AANWINSTE

9.3.1 Alle aankope van nie-verbruikbare voorraad moet behoorlik in die Bateregister gedokumenteer word.

9.3.2 Die aankoop/-verkrygingsdatum , prys en/ of enige waarborgtydperk moet vermeld word.

9.4 AFSKRYWINGS

9.4.1 Elke aktiwiteitsvoog lê maandeliks/ jaarliks voor 30 September ‘n lys van artikels wat vir afskrywing aanbeveel word aan die finansiële komitee voor.

9.4.2 Alle afskrywings moet skriftelik gemotiveer word.

9.4.3 Aanbevelings moet gemaak/ voorgestel word oor hoe om met die afgeskryfde items te handel bv. Item(s) is ondiensbaar, vernietig of verouderd; items moet aan ‘n buite-instansie geskenk word; items moet ná toestemming om te vervreem ingevolge artikel 58A van die Skolewet, per tender verkoop word, ens.

9.4.4 Vernietiging van items moet onder toesig van die betrokke komitee se voorsitter geskied. Genoemde voorsitter moet skriftelik sertifiseer dat die items vernietig is.

9.4.5 Die finansiële komitee kombineer die verskillende komitees se versoek en lê by die daaropvolgende vergadering van die beheerliggaam ‘n volledige lys van afskrywings aan die beheerliggaam voor.

9.4.6 Nadat die afskrywings deur die beheerliggaam goedgekeur is, ontvang die verantwoordelike persone die onderskeie lyste terug. Die betrokke afskrywings word dan op die rekenaar ingevoer en geliasseer.

10. VOORRAADOPNAMES

10.1 Voorraadopnames moet jaarliks voor 30 September afgehandel word.

10.2 Elke begrotingsbestuurder moet die opname doen soos op die kwartaalprogram aangedui.

10.3 Die FK-voorsitter moet jaarliks voor 30 September ‘n skriftelike verslag oor die voorraadopname ontvang.

10.4 Die FK-voorsitter doen by die daaropvolgende vergadering aan die beheerliggaam verslag.


10. VRYSTELLINGS VOLGENS DIE NORME EN STANDAARDE

10.1 Ouers wat vir vrystelling wil aansoek doen, moet die nodige dokumentasie voor 28 Februarie inhandig. voltooi ‘n aansoek vir vrystelling. Die aansoekvorms is by die kantoor beskikbaar. Die finansiële beampte verantwoordelik vir invorderings sal die aansoeke nagaan vir korrektheid en volledigheid.

10.2 Die glyskaal vir die vrystelling van skoolgeld sal gebruik word om die bedrag waarvoor die behoeftige ouer sal kwalifiseer te bepaal.

10.3 Alle aansoeke sal deur die finansiële beampte aan die finansiële komitee voorgelê word met die nodige aanbevelings. Elke geval sal bespreek en oorweeg word. Die finansiële komitee sal dan ‘n aanbeveling aan die beheerliggaam maak. Ouers sal dan skriftelik in kennis gestel word van die uitslag van die aansoek.

10.4 Indien die aansoeker ontevrede is met die besluit van die beheerliggaam mag hy /sy appelleer deur die voorgeskrewe dokumentasie te gebruik. Die appèl aansoek kan dan aan die departement gestuur word.

10.5 Sou die aansoeker se finansiële posisie ten goede verander nadat die subsidie toegestaan is, is dit die aansoeker se verantwoordelikheid om die beheerliggaam in te lig.

10.6 Die beheerliggaam behou die reg voor om op enige tydstip die subsidie te staak indien daar aan die lig kom dat die aansoeker se posisie verbeter het en hy/ sy volgens die glyskaal ‘n veranderde bedrag moet betaal. Indien dit terugwerkend reggestel word sal daar 5% rente bokant die heersende prima rentekoers verhaal word.

10.7 Indien die aansoeker onjuiste/ onwaar inligting voorgehou het, sal die volle subsidie toegestaan plus 5% rente bokant die heersende prima koers terugbetaalbaar wees. Die aansoeker sal dan ook vir die volle skoolgeld verantwoordelik wees. Regstappe sal ook teen so’ n persoon geneem word omdat dit op bedrog neerkom. (Bylae E : Vrystelling dokumentasie)

11. SALARISSE

11.1 Salarisse word maandeliks voor of op die laaste dag van die maand elektronies oorbetaal.

11.2 Volledige besonderhede van alle personeellede moet deurlopend bygewerk word.

11.3 Indien van toepassing, moet daar toegesien word dat LBS, werkloosheidversekering en pensioenbydraes maandeliks van die salaristrekkers verhaal word.

11.4 Die volgende partye mot stiptelike betalings ontvang:

11.4.1 Die Werkloosheidversekeringsfonds;

11.4.2 belastingowerhede

11.4.3 die Vergoedingskommissaris.

11.5 ‘n Volledige maandelikse rekord moet van elkeen se inkomste/ aftrekkings gehou word.

11.6 IRP5/IB3-sertifikate moet aan die einde van Februarie aan alle personeel uitgereik word.

11.7 IRP5-vergelykings moet ook stiptelik ingedien word.

11.8 Die beleid is dat daar nie geldelike bystand aan die personeel van die skool verleen kan word met geld wat eintlik vir die kinders se opvoeding bestem is nie. Geen geld sal dus aan personeel geleen of voorgeskiet word nie. Indien die personeel regtig ‘n probleem het, kan sodanige persoon by die kommersiële instellings aanklop vir hulp.

11.9 In ‘ n geval waar departementele aanstellings nie betalings ontvang nie omdat daar een of ander rede vir ‘n vertraging is met die betaling, kan daar ‘n voorskot aan die personeellid gemaak word. Dit word egter gedoen met die verstandhouding dat, indien hy/ sy die geld van die departement ontvang, die geld verskuldig aan die skool dadelik terugbetaal moet word. ‘n Dokument wat ‘n ooreenkoms in dié verband bevat sal deur die betrokke personeellid onderteken word alvorens die voorskot gemaak word.

12. SEKSIE 21

Vanaf Januarie 2002 het die skool Seksie 21 status. Dit beteken dat die skool jaarliks ‘n bedrag per leerder aan die skool oorbetaal en die beheerliggaam kan dan die geld na goeddunke aanwend.
(Bylae F : Seksie 21 Status)

Tel: (014) 533 2080/1 | Faks: (014) 533 2522 | epos: lsprotea@mweb.co.za | www.lsproteapark.co.za