|
|
|
Atletiekbeleid
|
 |
|
|
 |
|
LAERSKOOL PROTEAPARK: ATLETIEKBELEID
Hierdie beleid moet gelees word saam met die “Framework for Collaboration” : Coordination and Management of School Sport in Public Ordinary Schools : 15 March 2005
Dit onderskryf ook ons skool se visie en missie in die algemeen en spesifiek ten opsigte van sport.
Die Noordwes Onderwysdepartement is verantwoordelik vir departementele byeenkomste.
1. DOELWITTE
1. Om alle leerders in die skool ‘n gelyke kans te gee om deel te neem.
2. Om ‘n liefde vir die sport aan te kweek.
3. Om massa deelname te bevorder.
4. Om vir die leerders met ‘n spesiale talent in atletiek ook geleentheid te gee om te presteer.
2. BYEENKOMSTE
2.1 Ons sal deelneem aan alle byeenkomste soos deur die amptelike skolesportliggaam bepaal.
2.1.1 Atlete neem op die volgende vlakke deel:
∙ Skoolspan
∙ Tak (Branch)
∙ Cluster
∙ Area (Rustenburg)
∙ Streek (Bojanala)
∙ Provinsie (Noordwes)
∙ Nasionaal
2.2 Indien ‘n atleet, sonder verskoning, nie opdaag vir ‘n byeenkoms nie, sal so ‘n atleet uit die span gelaat word vir die res van die seisoen. So ‘n atleet kan dan ook volgens die skool se gedragskode gestraf word.
2.3 As ‘n atleet nie ‘n byeenkoms kan bywoon nie, moet hy/sy ten minste twee dae voor die tyd, reëlings tref met die spanbestuurder en die afrigter, sodat die nodige reëlings getref kan word vir ‘n plaasvervanger.
2.4 Noodgevalle sal volgens meriete behandel word.
3. VRIENDSKAPLIKE BYEENKOMSTE
3.1 Dit word deur die sportbestuurder in samewerking met die organiseerder gereël.
3.2 Die datums vir die byeenkomste word op die jaar-en kwartaalprogram aangedui.
4. PLIGTE VAN DIE SPORTBESTUURDER, DIE ORGANISEERDER EN AFRIGTERS
4.1 SPORTBESTUURDER
4.1.1 Die sportbestuurder word deur die Beheerliggaam aangestel.
4.1.2 Die sportbestuurder moet toesien dat die beleid geïmplementeer en toegepas word.
4.1.3 Die sportbestuurder moet ‘n lêer vir elke sportsoort in sy kantoor hê.
4.1.4 Die sportbestuurder stel die organiseerders in samewerking met die skoolbestuur aan.
4.1.5 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die maandelikse verslag aan die Beheerliggaam asook die weeklikse verslae aan die hoof. Hy/ sy moet ook toesien dat die sportsoorte die nodige dekking in die koerante en op die webblad geniet.
4.1.6 Die sportbestuurder dien op die sportkomitee van die Beheerliggaam.
4.1.7 Die sportbestuurder reël vergaderings van die sportkomitee in samewerking met die betrokke Beheerliggaamlid en skoolbestuur.
4.1.8 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die voorbereiding van bane/ velde voor wedstryde.
4.1.9 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die kontrole en beheer van sportvoorraad en voorraadopnames.
4.1.10 Die sportbestuurder reël afrigtingsklinieke, reëlbesprekings en eksamens in samewerking met die organiseerder.
4.1.11 Die sportbestuurder kontroleer die betalings van buite-afrigters voordat dit ingestuur word vir betaling.
4.1.12 Die sportbestuurder hanteer griewe en dispute wat na hom/ haar verwys is.
4.1.13 Die sportbestuurder is verantwoordelik vir die opstel en bestuur van die begroting in samewerking met die organiseerders.
4.1.14 Die sportbestuurder reël busvervoer indien nodig en stel die bedrag vas wat elke speler/ deelnemer moet betaal.
4.1.15 Die sportbestuurder doen die toekennings vir trofeë vir die prysuitdeling in samewerking met die organiseerders.
4.2 ORGANISEERDER
4.2.1 Die organiseerder is verantwoordelik vir die organisatoriese aspekte van ligas/ wedstryde/ byeenkomste in samewerking met die afrigters.
4.2.2 Die organiseerder wys die afrigters/ skeidsregters/ beamptes aan in samewerking met die sportbestuurder en hoof aan..
4.2.3 Die organiseerder stel die begroting op in samewerking met die afrigters en bespreek dit met die sportbestuurder.
4.2.4 Die organiseerder moet reël dat die bane/ velde voorberei word vir wedstryde/ byeenkomste. Die voorbereiding van die veld/ bane is die verantwoordelikheid van die sportbestuurder.
4.2.5 Die organiseerder stel die oefentye vas in samewerking met die afrigters en sportbestuurder.
4.2.6 Die organiseerder kontroleer die afrigters ten opsigte van oefentye, bywoningsregisters ens.
4.2.7 Indien daar van buite-afrigters gebruik gemaak word, moet die organiseerder ‘n tydkaart byhou en aan die einde van elke maand instuur aan die sportbestuurder, sodat die betaling aan die afrigter gemaak kan word.
4.2.8 Die organiseerder is verantwoordelik vir die uitslae/ verslag aan die sportbestuurder op ‘n Maandag en ook vir die terugrapportering in die saal.
4.2.9 Die organiseerder woon ook die jaarvergadering en ander vergaderings soos nodig, vir die betrokke sportsoort by.
4.2.10 ‘n Volledige, gedetailleerde pligstaat is beskikbaar by die sportbestuurder.
4.3 AFRIGTERS
4.3.1 Afrigters word deur die organiseerder in samewerking met die sportbestuurder aangewys.
4.3.2 ‘n Afrigter neem volle verantwoordelikheid vir sy/ haar span. Elke afrigter moet ‘n lys hê van die leerders wat by die betrokke item/ span oefen.
4.3.3 Die afrigter moet sorg dra dat hy/ sy op hoogte is van die nuutste reëls en afrigtingstegnieke.
4.3.4 Die afrigter is verantwoordelik vir die opwarming, fiksheid en afrigting van die span aan hom/ haar toegewys.
4.3.5 Die afrigter moet toesien dat die spelers/ deelnemers korrek volgens voorskrifte geklee is.
4.3.6 Die afrigter is verantwoordelik vir die evaluering van spelers met die oog op die maak van spankeuses. Die evaluering sal van tyd tot tyd deur die sportbestuurder gekontroleer word.
4.3.7 Die afrigter reël die vervoer van spelers/ deelnemers en voltooi ook die dokumentasie vir toestemming van die Onderwysdepartement in samewerking met die sportbestuurder.
4.3.8 Afrigters moet te alle tye voorbereid en met geskikte kleredrag by die oefeninge/ wedstryde/ byeenkomste opdaag.
5. SAAMSTEL VAN DIE ATLETIEKSPAN
5.1 Daar sal ‘n massabyeenkoms aangebied word waar al die interhuisspanne kan deelneem. Tydens die byeenkoms word daar ‘n aantal deelnemers per item gekies wat dan aan die Proteapark kampioenskappe sal deelneem. Hierdie atlete sal dan gedurende aktiwiteitsperiode oefen. Tydens die kampioenskappe sal die beste vier atlete in die atletiekspan opgeneem word. Alle deelnemers mag egter nog steeds kom oefen.
5.2 As ‘n atleet voel dat hy/ sy ‘n kans staan om iemand in die span te wen, mag hy die nommer vier atleet in die betrokke item daag. Die atleet mag net een keer daag. Sou hy die nommer vier atleet wen, mag hy die nommer drie daag ens. Die organiseerder moet dit reël op ‘n tyd wat al die betrokkenes pas. As die “gedaagde” meer as twee keer ‘n verskoning aanbied sal hy/ sy die posisie verloor wat hy/ sy beklee.
5.3 Elke byeenkoms bepaal die samestelling van die span vir daardie spesifieke byeenkoms.
6. AFRIGTING
6.1 Die atletiekorganiseerder word deur die hoof in samewerking met die sportbestuurder aangewys. Die atletiekorganiseerder se volledige pligstaat asook die van die afrigters en spanbestuurder is in die Atletieklêer wat deur die organiseerder op datum gehou moet word.
6.2 Die organiseerder in samewerking met die hoof en sportbestuurder stel die onderskeie afrigters aan.
6.3 Buite-afrigters kan aangestel word indien daar ‘n behoefte is en daarvoor begroot is. Die afrigters moet ‘n CV indien en dit moet aan die personeelbestuur voorgelê word. Hulle sal vergoeding ontvang volgens die neergelegde beleid. Alle dokumentasie in dié verband moet met elke oefening bygehou word. Dit is die organiseerder se verantwoordelikheid.
7. BEFONDSING
7.1 ‘n Jaarlikse begroting moet voor die einde van September ingedien word.
7.2 Borge kan genader word vir medaljes en trofeë.
7.3 Alle aankope moet gedoen word volgens die finansiële beleid van die skool.
7.4 Alle apparaat wat aangekoop word moet dadelik in die bateregister aangeteken word. Aan die einde van die seisoen moet ‘n volledige voorraadopname gemaak word en alle apparaat wat afgeskryf moet word, moet aan die Beheerliggaam voorgelê word vir goedkeuring.
8. KLEREDRAG
8.1 Wanneer ‘n atleet in die skool se span opgeneem is, sal van hom/ haar verwag word om die korrekte, voorgeskrewe atletiekdrag te dra. Die drag is by die skool se klerewinkel beskikbaar. Dit is die spanbestuurder se verantwoordelikheid om toe te sien dat alle atlete korrek geklee is.
9. VERVOER
9.1 Atlete sal op die skool se onkoste vervoer word binne ‘n radius van 70 km. Enige vervoerkoste verder sal deur die atlete self betaal moet word. Dit is die spanbestuurder/ afrigter se verantwoordelikheid om die busgeld in te vorder en in die kantoor in te betaal. Die bedrag wat inbetaal moet word, word deur die sportbestuurder vasgestel.
9.2 Atlete wat saam met hulle ouers na byeenkomste wil ry, moet reëlings tref met die spanbestuurder.
10. OUERS/9TOESKOUERS
10.1 Ouers se ondersteuning word te alle tye hoog op prys gestel.
10.2 Ouers mag nie met spankeuses en oefeninge inmeng nie. Indien ‘n ouer ‘n probleem het, moet dit skriftelik by die organiseerder ingedien word.
10.3 Enige ouer wat hom/ haar wangedra tydens byeenkomste mag deur die betrokke afrigter, organiseerder of lid van die skool se personeelbestuur gevra word om die terrein te verlaat.
10.4 Indien ‘n ouer hom/ haar herhaaldelik aan wangedrag skuldig maak, sal die Beheerliggaam teen die ouer optree.
10.5 Volgens atletieketiket mag daar geen ouers/ afrigters op die baan wees tydens byeenkomste nie. Ouers/ afrigters mag egter met die blokke behulpsaam wees, maar moet die baan verlaat sodra dit opgestel is. Volgens die atletiekreëls kan ‘n atleet gediskwalifiseer word indien hierdie reël nie nagekom word nie.
10.6 Appèl : Indien u appèl wil aanteken tydens ‘n byeenkoms moet u dit eerstens met die spanbestuurder gaan opneem en hy/ sy sal dan die regte stappe neem. Alle appélle moet vergesel word van R50.00 en moet binne 30 minute nadat die voorval plaasgevind het, aangemeld word.
11. GRIEWEPROSEDURE
11.1 Alle griewe moet skriftelik by die organiseerder ingedien word.
11.2 Die organiseerder sal die grief ondersoek, onder die sportbestuurder se aandag bring en dit dan hanteer volgens die skool se grieweprosedure.
12. OEFENINGE
12.1 Aflosse: Gedurende die atletiekseisoen sal daar elke middag direk na skool tydens aktiwiteitsperiode aflosoefening wees en dit is verpligtend vir al die atlete in die aflospanne. Atlete wat versuim om die oefeninge by te woon sal sy/ haar plek in die span verloor.
12.2 Alle oefeninge is verpligtend vir die span, tensy die atleet in die betrokke item privaatafrigting ontvang. Dit moet egter met die organiseerder en spanbestuurder uitgeklaar word.
12.3 Indien die afrigter vir ‘n betrokke item voel dat die atleet nie kom oefen het nie en dus nie reg voorberei is vir die byeenkoms nie, is dit die afrigter se volste reg om so ‘n atleet van die kompetisie te onttrek.
12.4 Indien ‘n atleet wel ‘n grondige verskoning het moet dit skriftelik by die afrigter en spanbestuurder ingehandig word, verkieslik voor die oefening.
13. PRESTASIETOEKENNINGS
13.1 BETROKKENHEIDSERTIFIKAAT: Elke leerder wat die skool een keer amptelik verteenwoordig het, of as reserwe opgetree het, sal ‘n betrokkenheidsertifikaat ontvang.
13.2 PRESTASIESERTIFIKATE: Atlete wat in kring- en streekspanne opgeneem word, ontvang prestasiesertifikate.
13.3 LAPELWAPEN: Atlete wat die provinsiale span haal ontvang ‘n lapelwapen.
13.4 EREROL: ‘n Atleet wat aan ‘n nasionale week deelneem as lid van die provinsiale span, se naam word op die ererol van die skool geplaas.
13.5 TROFEË: Trofeë wat deur persone en instansies geskenk is, word ook toegeken volgens vooraf bepaalde kriteria.
Aan die einde van die seisoen word die Victor en Victrix Lodorum aangekondig en hulle ontvang elkeen ‘n trofee. Daar word gebruik gemaak van die ABSA tabel om die wenners te bepaal. Die toekenning word egter eers op die Gala-aand aan die einde van die jaar oorhandig.
14. AFSLUITINGSFUNKSIE
14.1 Die funksie vind aan die einde van die seisoen plaas. Die organiseerder in samewerking met die afrigters bepaal die vorm, datum en plek. |
|